Total Pageviews

Friday, November 25, 2011

Izak Smit


Ek het geloseer eers ant Mieta, wat 'n halfsuster van Ma was. Daarna by die Jovners.Ek en Bennie was in dieselfde klas. Toe was daar 'n tyd wat ek die Joostes ( net agter die Alstons se winkel) saam met Kobus Smit, Frans en Jakop Jooste en natuurlik die Jooste kinders gebly het.

Toe het die noodlot ingegryp en ouma Visser het beroerte gekry en Ma het haar toe op die dorp kom oppas. Dis hier waar ant Ellie by ons kom bly het as Ouma se verpleegster. Na Ouma se dood is sy uit ons huis met oom Gielie Visser getroud. Neef Gerhard Visser en sy suster Annette het by ons geloseer.

Genoeg van die verlede. Ek en Marlene, my anderhelfte, van amper 44 jaar, bly op Rocky Glen, 'n plaas in die Dordrecht-distrik. Ek was 18 jaar lank die skoolhoof hier.Ons het twee kinders, Sisteen en Francois. Sy is 'n boedelkosultant in Stellenbosch by PWC en is getroud met Freek Geyser. Hulle het een seun Martiens.Francois is 'n bourekenaar en hulle woon in Oos Londen.Hulle het twee seuns Schalk en Bruwer.

Broer Johannes is al oorlede en dit is nog net ek en broer Francois. Hy woon in Faerieglen, Pretoria. Hy kan self sy storie skrywe.

Dit lyk my dat na ons tyd of daar meer vir die kinders gedoen is om hulle aan die groter wêreld bekend te stel.

Die Burgerstrandhuis besoeke was ons nie beskore nie. Dit glo ek, was miskien te danke aan jonger personeel met vernuwende denke.

Ek sal graag met al die ou vriende E-posadresse wil uitruil en gesels. Dis nou diegene wat wil.

Monday, November 21, 2011

Gideon Louw

Francois Augustyn het my vanmiddag geskakel om my te vertel van die be-oogde 100-jarige Kerkreunie volgende jaar. Wat 'n verrassing was dit nie om op 'n Maandag so uit die bloute 'n oproep van Vanwyksvlei te kry.

Ek is ook beïndruk met die webblad. Die wêreld het klein geword met al die tegnologie en kommunikasie is vinnig.

Ek was predikant op Vanwyksvlei van 1981 tot 1984. Vandaar is ek uit die bediening en het by Sanlam Eiendomme gaan werk. Ek het later weer my predikantstatus teruggekry maar het nog nooit weer as predikant gepraktiseer nie. Ek is al vir die afgelope 17 jaar 'n terapeut wat met dwelmverslaafdes werk. 


My eggenote, Annemarie, is ook al vir baie jare 'n terapeut. Sy spesialiseer in eetversteurings. Ons het 5 kinders grootgemaak waarvan 2 al getroud is. Ons het ook 2 kleinkinders.

Wat ek van Vanwyksvlei en sy mense sal onthou, is die baie opregte liefde en geduld. Die droogtes, siektes en ontydige dood van baie het my altyd laat dink...."waarom bly die mense nog hier?" 


Vandag weet ek...dit was die gevoel van om te behoort aan 'n gemeenskap waarin elkeen sy plek gehad het. Ek dink dit het baie bygedra tot ons benadering tot siek mense naamlik dat jy nooit opgee nie. Selfs die siekste en slegste mens het 'n kans om reg te kom.

Groete uit Stellenbosch

Gideon Louw

Thursday, October 27, 2011

(Klein) Schalk Burger

Ek het van die webtuiste bewus geword toe ek ‘n brief van die N.G. Kerk op Vanwyksvlei ontvang het wat gerig was aan my skoonpa, Jack Visser.  Hy is omtrent 9 jaar gelede oorlede.  My skoonma leef nog en was pas 90 jaar oud.  Sy woon in Hartenbos.  Ek is getroud met Rina, die oudste kind van Jack en Pop Visser.  Rina se broers is Piet Tekkies, Jan en Tem.  My skoonpa se broers was Ds. Ben Visser wat vroeër predikant op Vanwyksvlei was, sowel as oom Gielie Visser wat later met tant Ellie getroud was.

Ek het in 1961 standerd 8 geslaag op Vanwyksvlei en is daarna na die Hoër Jongenskool in die Paarl waar ek in 1963 matriek geslaag het.  Daarna weermag toe vir 9 maande opleiding waarvan drie maande in die Diensvakskool in Pretoria en 6 maande op Upington.  Dit is op Upington wat ek weer vir Rina raakgeloop het en is 1966 met haar getroud.  Ons het 4 kinders, twee dogters en twee seuns.  Ons jonger dogter en die twee seuns is almal op die 10de Mei gebore in die jare 1970, 1972 en 1974.  Ons is ryklik geseën met 9 kleinkinders, 6 seuns en 3 dogters.

Ek het op Vanwyksvlei in die Standard Bank begin werk op 2 Januarie 1965 met die ongelooflike salaris van R79 per maand.  Daarna het ons die land deurkruis soos wat die bank ons verplaas het.  Ek het later oorgegaan na Nedbank toe. Ons moes altesaam 14 keer trek.  Die laaste 10 jaar van my loopbaan het ons op Bloemfontein deurgebring waarna ons in 2004 na my aftrede na Kleinbrak verhuis het en hopelik hier sal kan aanbly tot die einde toe.

Ek dink soms terug aan die mense van wie meeste al vergeet het, soos oom Jasper Cloete, die opsigter by die skool met sy allemintige snor.  My pa en oom Ben Jovner was so lief om dambord teen mekaar te speel.  Oom Willie Vos het ons skoene reggemaak en hy het baie kwaad geword as ons hom vertel het die wêreld draai in die rondte. Oom Ras het baie geld gemaak met al die Peps lekkers wat ons daar by sy kafee gekoop het.  Sal ek ooit vergeet van die twaksakkie met die tiekies en sikspense wat hy in sy onderbaadjie se sak gedra het om Sondae voor kerk vir ons te help met kleingeld vir die kollekte.  Oom George Nolte het een somer vertel dat daar so baie muskiete is dat wanneer hy met sy sweep klap daar so ‘n bloedstreep deur die lug sit.

My broers en susters is oor die land versprei in Pretoria, Nelspruit, Welkom, Merweville, Somerset Wes, Paarl en Kraaifontein.  My suster, Herma, is reeds oorlede, en Tollie se vrou is ook onlangs oorlede.  Ja, hulle kap nou hier in ons bos!

Opregte dank aan Annien en Van der Spuy vir hierdie web tuiste.  Ek sien uit na verdere bydraes van die ander Vanwyksvleiers.

Tuesday, October 18, 2011

Fransie Human

Hoop nie ek klink te sinergisties of selfs fundamentalisties nie, maar die bestaan van die webtuiste is die Wondelikste nuus wat ek in maande gekry het!

Sal verseker stories en foto's later stuur. Wou net eers BAIE DANKIE sê hiervoor. Vanwyksvlei sal altyd deel wees van my mens-wees.

Monday, October 3, 2011

Pieter Fourie

By Groot Schalk Burger gehoor van die webblad en kom inloer (wonder wat het van Klein Schalk geword) en skielik was ek vasgevang in  heimwee en 'n knop in my keel wat nie wou afsluk nie. Die dorp lyk nog net soos ek onthou, sal sekerlik nog 'n  grondplan kan  teken as ek konsentreer wat op my ouderdom moeiliker is as wat ek sou wou erken.

Ek het op Kleinvlei grootgeword, bure met Schalk en Ansie Burger op De Nauwte en Tiny en Klein Piet Fourie op Takdam. In 1950 skool toe saam met Schalk. Sy ma het hom bietjie tuis geleer en hy is sommer Sub B toe. Na 'n week het die juffrou besluit daar is niks wat hulle vir my en Ansie in Sub A kon leer nie en is ons ook opgeskuif. 

Daarna was ons drie saam tot Std 8 waar ons saam met Tiny, Salome de Bruyn, Wilma van Heerden en Dina Jacobs 'n reuse klas van sewe gevorm het. Die lewe soms moeilik gemaak vir Mnre Krynauw, Hanekom, Mostert en Snyman en ook Mev Brink. Schalk en ek is Paarl Boishaai toe, Ansie en Tiny na Larochelle en vir twee jaar het ons saam die skooltrein gery tot op Hutchinson.

Alles was toe so anders en so eenvoudig.  Ons kon kaalvoet loop en khaki dra en veld toe gaan en die koeelkop uitklim en niemand was bekommerd nie.Ons het dikwiel fietse gery, Raleighs en Humbers, dunwiele was hopeloos in sand en soms geval en vel verloor maar selde was dit nodig vir 'n besoek aan Dr Hattingh. Wie onthou nog Gouws en Hattingh Ingenieurs?

Soms het ons probeer rook en gehoes en naer geword maar niks geweet van dwelms. Ons was soms in die moeilikheid maar oor die algemeen meer dikwels in die kerk as Mnr Hauman se kantoor. Saans kon ons sterre sien en die eerste Sputnik volg.By die dam het ons blou bottels en patroondoppies en sigaretblikkies uit 'n ou ashoop gegrawe en by die enkele geleenthede wat daar water was en klei, het ons kleilat gegooi en probeer om klein kolganse te vang, gewoonlik onsuksesvol maar heerlik in die modder.

Wanneer daar water was, het die dorp se voor geloop en het dit nuwe geleenthede vir speel en kattekwaad geskep. Dan het oom Ras le Roux, die koster, se vrugtebome beter gedra en het ons in die aand soms 'n paar gaan gaps. Hy het altyd sy melkbokke in 'n opgeboude kraal aangehou. Later het hy net die krale opgebou en, siedaar, met dak, deure en vensters die dorp se eerste kafee waar ek elke week my sjieling sakgeld spandeer het, 6 pennies op lekkers en 6 pennies op suiker. 

Saam met my bende volgelinge, Klein Piet Fourie, sy neef Japie Bothma, Gawie Rossouw en die Jacobs tweeling, Josef en Benjamin, het ons asbosskerms in die veld gebou, suiker in 'n Cobra politoerblik se deksel gesmelt en baie meer suiglekkers gemaak as wat oom Ras kon bied.

In tant Maria Esterhuizen se huisie agter in oom Koos Smit se erf het ek loseer en het ek met 'n kers of lantern my huiswerk gedoen. Sy kon nie elektrisiteit van Avenants Lig en Krag bekostig nie maar ek het nooit die verskil agtergekom nie. My geheue het definitief al verswak, ek dog Gerber was oom Hannes Walters met die twee mooi en slim dogters en Max Kupfer die Avenants met die hotel langsaan. My pa was 'n Walters man, het een maal per jaar voor Kersfees by Avenants ingestap en vir Theo of 'n klerk gevra om vir hom 'n bottel soetwyn uit die drankwinkel te gaan haal. Nooit sy voete self daar gesit nie. Dalk sien ds Brink!!

Agter op oom Frans van der Westhuizen of Soon Oberholzer se lorrie met n kap het ons gaan rugby en netbal speel sommer so op grondvelde. Die skole met sagter velde se spanne het gewoonlik vroeg by ons opgedaag sodat hulle eers klippe van die veld kon afgooi. Ons veld was rof want elke pouse het die hele skool se seuns op hom sokker gespeel met 'n tennisbal.

Rugby was almal deurmekaar, te min vir ouderdoms groepe. Nerwe is afgeval en tone stukkend gestamp of getrap want tokse was nie 'n vereiste nie maar vanaand, op pad terug, was jy soms gelukikig om langs 'n meisie te kan sit en, terwyl die winterwind by baie gaatjies inkom, 'n kombers te deel en haar hand vas te hou. Party outjies het selfs gespog dat hulle 'n hand op 'n  knie gehad het maar ek het maar  altyd getwyfel oor die egtheid van sulke spoggery.

Na skool is Schalk en ek Pretoria Universiteit toe, hy ingenieurswese en ek veeartseny. As beurshouer moes ek vir die staat werk en begin in Upington waar ek bly tot 1969. Hier ontmoet ek ook my vrou Patricia (nee Holmes) en trou ons in 1968.

Ek verlaat die staatsdiens en die Kalahari, die eerste met vreugde, die tweede met hartseer en begin my eerste eie praktyk in Vredendal maar verskuif  in 1970 na Sasolburg in die Vrystaat waar ek my praktyk oor die volgende 32 jaar opbou.
Ons is geseen met 2 dogters en 2 seuns en 'n rype oes van 8 kleinkinders, 5 seuns en 3 dogters.

Ek verkoop my praktyk in 2002 en skuif in 2003 na Pretoria waar ek vinnig ontdek dat aftree nie vir my is nie. Om te kompenseer doen ek nou lokumwerk vir my vriende en spandeer 4 tot 6 mde per jaar in Engeland waar ek inverskeie praktyke aflos. Verder spandeer ek tyd met my familie en werk in my posseel tuintjie of besoek die wildtuine wanneer ek kan.

My suster Retha leef nog en woon in Goodwood in die Kaap maar Klein Piet Fourie, Takdam is reeds oorlede.

Monday, September 26, 2011

Ansie Burger-Maritz

Ek was Ansie Burger, het saam met broer Schalk in '58 standerd 8 geskryf en is toe La Rochelle toe.  In Grahamstad verder studeer en toe op verskillende plekke skoolgehou, 'n besigheid saam met 'n vennoot besit en tot aftrede 3 jaar gelede by Sanlam se hoofkantoor in Bellville gewerk.

Hierdie is 'n skitterende idee.  En ek stem saam oor Facebook - het my deelname daar lankal gekanselleer.  Dankie aan Van der Spuy en Annien.

Ek is op die geseënde ouderdom dat flitse van die voorjare gereeld by my opkom!  Nie dat alles van daardie jare rooskleurig was nie, maar dit geld doodseker vir almal van ons, né?

Dink nou die dag aan ons 'uitspeel'-dae na onder andere Vosburg.  Ook met uitskoponderrokke, selfs 'n hoepel of twee, agter op 'n lorrie! Nou voel dit vir my ek het full circle bereik, want Vosburg hou al vir die afgelope paar jaar hier in Stellenberg by ons kerkbazaar.  Kom met 'n groot koel-lorrie en vleis, vleis, vleis!  Hier in ons maksi-gemeente is die koopkrag en mense staan van vroeg af tou.  So neem ek binnekort van Vosburg se sosaties na Oranjemund wanneer ek na my kinders gaan vir 'n week of twee.

Ek is al meer as 20 jaar op 'n solovlug en het twee pragtige getroude dogters met 4 kleinkinders tussen hulle. Toe albei dogters getroud is, het ek my nooiensvan teruggeneem.  Daardie jare was dit baie maklik en het tien rand gekos!

Ek het so heimwee na die Zinnias in ons voortuin gehad dat ek 'n ruk gelede saad in die Williston Mall gekoop het en toe verlede somer in my klein meenthuistuintjie 'n pragtige drag gehad het.  (Verlang niks na selonsrose nie!)

Ek lees getrou alles wat almal bydra.

Friday, September 23, 2011

Stompie Burger

Ek het in 1966 St 8 in Vanwyksvlei geskryf, toe na Carnarvon vir 9 en 10. Vloot toe vir 'n jaar, Stellenbosch toe vir 'n jaar of wat, toe die swerfjare ( soos Poppie Nongwne),later getroud met Ingrid Cooper van Caledon , het twee dogters en 'n seun. Het al 12 keer verhuis van dorp!!!- die hele land vol.

Was meeste van my jare by Santam. Afgetree daar, en is nou by 'n Ingilse versekeraar vir die laaste stuk. Beplan om te werk tot ek omval, want niksdoen sal my dood verhaas - wanneer dit ookal moet wees.
 
Het eendag aan die "voete van Gamaliel" ( Pa Hannes) gaan sit, en al die grappe aangeteken  wat hy altyd vertel het. Sal dit een of ander tyd vir julle stuur. Ek weet net nie hoe werk al hierdie megefters nie. Woon nou op Malmesbury waar hulle so lekker brrry - rol die erre.

My Pa het die stuk vertel van die koningshuis se besoek in SA in die laat 40's.
Malmesbury nooi hulle toe vir 'n funksie/dans en al die res. Die een prins dans toe met 'n boervrou wie haar erre so lekker kan rol . Vra hy vir haar:"Do you always roll your r's like this" - haar antwoord : " only when I dance on high heels".

Julle moet baie lag, dit hou mens jonk en gesond.

Ns. Van der Spuy, onthou jy die keer toe ek en James Easton jou Pa se geel Kewer "geleen", en handbriekspinne gaan doen het tydens die aanddiens .

Thursday, September 22, 2011

Annien (Pieters) Kriel

Jare gelede het elke gesin 'n geskenk gekry..dit iets wees soos 6 glase of teepot en 6 koppies

Ons het gekoop by J Gerber & Kie.  By dames afdeling gaan staan jy met jou lysie voor die bree toonbank.  Amanda Avenant agter die toonbank.  Jy vra dan vir 'n zip en hoop die kleur pas by jou materiaal. Die materiaal is dan in roklengtes (3meter) gesny.

Die afdeling waar die kruideniersware is:  Jy staan met jou lysie voor die bree hout toonbank.  Theo Avenant staan geduldig met die boek oop en skryf wat jy nodig het.  Agterna word alles op die lysie met tabak en pruimtwak en vuuthoutjies in 'n kartonboks gepak en agter op die bakkie gepak.

Die mans afdeling bestaan uit mans skoene (Baker) wat nie uitgepak in bokse was.  Klere was in plastiese sakkies ook in rakke gepak.   Eenkant was die velskoene.

Daar by die kruideniersware afdeling was so eenkant sulke glas hokkies waar daar lekkers in was, dit was sulke los lekkers.  Daar word dan van koerant of huisgenoot papier sulke "cone" kardoesies gedraai en by onderpunt met 'n vernuftige knypdraai toe gemaak. Lekkers word bo ingegooi en dan so omgevou en toe gedruk.

By Max Kupfer en Kie (oom Hannes se winkel)het ons dieselfde goed gekoop. Ek dink sommer aan die sykouse wat ons in die winter moes dra. Die "hot chocolate" was bv die kleur wat gewild was.  Beenlengte was in 30 /32 /34 / 36 duim lengte. Jy het baie langbeen en vandag is daar net 'n 30 duim kous. Kous dan net bo die knie.

Philip Burger

Mooi so Moempie en Annien!  Net vinnig dagse - sal later meer bydra. Ek is 1965 weg van Vanwyksvlei -- weermag toe en toe het die lewe sy draaie met my gestap. Woon nou reeds 23 jaar in Waterkloof Glen , Pretoria. Nog steeds getroud met Memory en ons het twee dogters. 

Een getroud , ander een swot nog. My broers Johan ( Stompie), Jan en Nico woon almal in die Kaap en sal seker binnekort van hulle laat hoor. Ons dreig nou al lank om Vanwyksvlei te besoek en ek dink dit sal nou binnekort gebeur.

Groete eers . Dankie Schalk vir die web-adres!

Marietta (Louw) Hettasch

Ek en my man is afgetree op 'n kleinhoewe Blaauwsekop naby Upington Boer op ons ou dag met rosyne en maak tuin om ons besig te hou Het 21 jaar in Windhoek gebly en baie vervreemd geraak a g v die afstand.

Daar is regtig sulke wonderlike herinneringe soos toe ons in die kerksaal gefliek het Mnr Hanekom het die projektor gewerk. Die films het tog so baie gebreek, maar dit het die boere kans gegee om lekker te gesels en te kuie.r Ek onthou nog hoe hy vir my gepreek het " slim vang sy baas" as ek so lui was om te leer. 

Ou juffrou Reitz wat so entoesiasties was met die operettes Onthou nog hoe mooi Jossie van Wyk solo's gesing het Die 1ste September toe ons kinderkrans kinders agterop 'n trok gery het en lenteliedere gesing het, ook die lekker pieknieks in die duine. Het al vergeet op wie se plaas dit was. Ek glo die manne sal seker nooit daardie harde klipperige rugbyveld vergeet waarop hulle so bebloed moes spook nie.

In my tyd het ons nag agterop 'n trok met 'n kap gery as ons gaan uitspeel het Die ligte wat so teen elfuur geknip het as ou Hendrik le Roux (ek dink dit was sy naam) besluit het dit is nou slaaptyd en hy die masjiene af gesit het Kersfees was ook so spesiaal Bitter warm! Dan slaap ons buite Onthou die kleurlingkore wat kom sing het en my ma wat vir hulle gemmerbier en soetkoekies aandra.

Julle sal ook seker die vloed onthou (ek dink dit was in 1961) Ons het almal op die Koeelkop daar naby die kerkhof gesit en die water gekyk. Ek dink as ek reg het was daar nog 'n helikopter ook Ag daar is nog soveel baie herinneringe uit ons kaalvoetdae wat nou weer terugkom nou dat ek na 31 jaar weer terug is in die Karoo.

Schalk Burger

Dit was `n lekker verrassing toe Annien my vanmiddag bel om van Vanwyksvlei se eie webtuiste te vertel. Wat `n wonderlike idee! Baie geluk aan Van der Spuy en Annien!

Ek het in 1958 Standerd 8 op Vanwyksvlei voltooi (Mnr. Krynauw was die skoolhoof) en vir my laaste twee jaar na die Hoër Jongenskool Paarl gegaan.

Het toe siviele ingenieurswese by Tukkies geswot en by die destydse Suid-Afrkaanse Spoorweë en Hawens in Port Elizabeth begin werk (het `n beurs by hulle gehad).

Daarna het ons na Bloemfontein verhuis toe ek `n betrekking by`n raadgewende ingenieursfirma aanvaar het. Ek het in 2000 by V3 Raadgewende Ingenieurs (waarvan ek `n medestigter in 1977 was) afgetree en tot 2010 vryskut raadgewende werk gedoen. Sedertdien probeer ons soveel van Suider-Afrika as moontlik met `n 4x4-voertuig en –karavaan sien en kan ek ook my passie vir fotografie uitleef. `n Ander lekker stokperdjie is om wyn te maak en ons trek nou al by ons sesde oesjaar!

Ek is getroud met Elgru Jonker (het haar op Vanwyksvlei by Marien Pieters ontmoet) en ons het drie seuns en `n dogter en tot ons teleurstelling net een kleinkind! Ons bly nou al 41 jaar op Bloemfontein en alle oud-Vanwyksvleiers wat hier deurry, is baie welkom om te kom inloer en selfs oor te slaap!

Ons was verlede jaar in April Vanwyksvlei toe en het die besoek baie positief ervaar. Ek sal by `n volgende geleentheid iets meer hieroor vertel en ook `n paar foto`s wys.

Dit was lekker om my niggie Soekie se bydrae te lees. Nou weet ek sommer waar sy haar bevind en sal ons `n plan moet maak om mekaar weer `n slag te sien!

Soekie Goosen (Burger)


Van der Spuy en Annien, Baie dankie vir julle inisiatief.  Ons waardeer dit.

Ek is getroud met Andre Goosen en is woonagtig in Durbanville, Kaapstad.  Ek het 3 kinders en 6 kleinkinders.  Ek stuur graag mettertyd my storie (s) en 'n foto.

Komaan ouens, laat hoor van julle!

Dawid Rossouw

Die skooljaar 1962 en ek stap as jong, onervare onderwyser,vars van die Universiteit Stellenboch by Middelbare skool, Vanwyksvlei in.

Die mense,dorp en omgewing maak 'n onuitwisbare  indruk op my en drie jaar lank word daar geslyp en gevorm sodat ek later hoogtes in die onderwys kon haal, maar Vanwyksvlei leef tot vandag toe nog helder in my gees.

Elke brokkie nuus van daardie kontrei en sy mense is sielsvoeding. Dankie Annien dat jy geskakel het, Leeukolk is in ons hart. VDSpuy, jou pa en ma was juwele wat ons onderwys-groei versnel het.