Total Pageviews

Thursday, November 8, 2012

Anneke Krynauw

Ek het vanoggend die allerwonderlikste 'ding' ontdek: die webblad oor Vanwyksvlei! Sal vanaand as ek by die huis is hopelik rustig kan lees aan almal se stories.

Ja, ek was die skoolhoof se dogter ... Ons het in Oktober 1957 in Vanwyksvlei aangekom (ek was toe in Sub A) en daar gewoon tot April 1962. My broer, Kosie is daar gebore in 1958.

Die 'vloek' van die familie rus op my want ek is ook 'n onderwyser - Wiskunde. Woon tans in Houtbaai waar ek skoolhou by die International School of Hout Bay - 'n wêreld verwyderd van Vanwyksvlei met die bloekombome op die skoolgrond (seker nie meer daar nie?)

Dis so lekker om name te sien van mense wat ek goed kan onthou: Stompie Burger, Johan Joubert, Philip Burger, Miemie van Wyk, Van der Spuy Brink, Annien Pieters, ens. 


Dit voel vir my asof ek 'n geskenksak gekry het vol van lekker dinge, en dis nog nie eens Kersfees nie! Ek het nogal so in my agterkop begin beplan aan 'n moontlike kuier op Vanwyksvlei gedurende die Desember-vakansie, want ek smag na die wye oop vlaktes van die Karoo met sonbesies in die dag en baie sterre in die aand. Ek het glad nie geweet van die kerk se eeufees nie...

Ek dink nie ek het veel foto's van die tyd wat ons daar gewoon het nie, behalwe die ene wat reeds êrens op die webblad verskyn van die Krynauw-gesin; geneem in die pastorie se tuin, net voordat ons weg is.

Maar die herinneringe... genoeg om 'n boek te skryf!

Sal later weer klets en wil graag kontak maak met enigeen wat my nog kan onthou.

Mooi loop!