Total Pageviews

Wednesday, January 25, 2012

Johnny Visser


Wat ‘n voorreg om herinner te word aan jou kleintyd en dit nogal deur mense wat dit saam met jou deurgemaak het. Baie dankie Van der Spuy en Annien vir julle inisiatief en ook aan elkeen wat sy/haar storie vertel het.
      Ek is bevoorreg om steeds my wortels in die omgewing te hê, aangesien ek deeltyds boer op ons familieplaas, Loskop.
     Gepraat van groot klasse: in St 7, as ek reg onthou was ons net 3, ek Erna van Wyk en Anita Bruwer.
     Na St 8 is ek Carnarvon toe vir St 9 en Matriek, daarna my deel gaan doen vir volk en vaderland. In 1975 klaar studeer op Stellenbosch (Landbou) en my lewensreis begin. My loopbaan is in die veevoerbedryf, nog steeds.
     Ons Loskop-Vissertjies was vyf- ek, Trudie, Diana  (oorlede), Annalize en Louise. Trudie bly in Springbok en Annalize en Louise in Prieska. Pa Boet en Ma Anna is ook reeds oorlede.
     In 1978 is ek met Lizelle getroud en ons het 3 kinders, ‘n dogter en twee seuns, asook 2 kleinkinders. Ons het in Malmesbury begin en is daar weg in 1982- Klerksdorp toe. Daarvandaan in Vryburg gaan draai en toe Christiana toe, waar ons steeds ‘n nessie het.
     Tot en met St.4 het ek by Oupa Jan en Ouma Daisy loseer en daarna is ek koshuis toe. Ander loseerders saam met my by Oupa en Ouma was Gert White en vir ‘n rukkie Gert Visser. Ons teen-aan bure was die Louws. Tannie Martha was ‘n tweede Ma vir my en ek en Jan het saam geboer. Cowbows en Kroeks gespeel en damme in die straat gebou (sommer as dit droog is ook- die hoop beskaam immers tog niet)-  tot die ergenis van die grootmense wat dit gereeld stukkend gery het. Dit was die dae van 5c sakgeld per week waarmee jy ‘n groot, vol blik kondensmelk kon koop, of ‘n “trompet” vol lekkers by Oom Ras.
     Oorkant ons was een van die eerste huisies in Van Wyksvlei. Een van modder en strooi. Anna (ek kan nie hulle van onthou nie) en haar Ma het toe nog daar gebly.
     Wonderlik was die manier waarop ons ouers en hulle werkers interaksie gehad het. Met groot respek vir mekaar. Ons kinders was gou getugtig wanneer ons nie respek aan die werkers getoon het nie. Ek wil vir julle ‘n staaltjie vertel rondom Karools Tieties, ‘n man waarvoor ek baie lief was en by wie ek oneindig baie geleer het en wat baie jare vir ons gewerk het.
      ‘n Man, soos sy voorsate, met ‘n ongelooflike waarnemings vermoe. Ek en Karools het een aand op die plaas in die asbosskerm rondom ‘n vuurtjie waarop ‘n skaaptjoppie begin verbruin het, sit en gesels toe daar ‘n spoetniek oorkom. Toe ek opmerk dat ek darem baie lanklaas ‘n sattelliet gesien het, wou Karools weet of ek “daai ding” al goed bekyk het.
      “Wag,” was sy opmerking, “as daar nou weer een oorkom, sal ek jou wys”. (deesdae is daar mos feitlik nie meer sulke goed te siene nie, of kyk ek maar net te min in die lug op?) Kort voor lank kom daar een oor. “Sien jy hom?,” vra Karools. “Daar gaan hy nou net by die 3 konings verby”. 
    “Ek sien hom!”  
     Karools,  “ Daar gaan hy nou oor die bult by die sewe susters verby- weg is hy.” Ek het gesien, Karools. Ja, Jontels, maar jy het nie mooi gekyk nie.
     “Nou wat het ek dan gemis, ek dog ek het hom mooi gesien”. Nou het jy dan nie gesien dat “daai ding” nie briekligte het nie? Kostelik- en waar en ek mis hom verskriklik.
     Dan was daar oom Koot Visser, sentrale, wat gese het hy laat altyd vir Matie (Johan) Le Roux van Oom Gert en Tannie Baby Le Roux, Witdam, 12 minute lank vry oor die foon, want hy (Matie het soms erg gehakkel) sê net soveel in 12 minute as die ander mannetjies in 3.
     Dankie aan diegene wat die reunie organiseer- dit vat altyd baie en ons hoop om ook daar te wees.
     Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Die herinneringe is ‘n vloedgolf... soos in ’61. Dis Vyetyd. Christiana is nie ‘n vyeplek nie, maar in ons erf is daar 3 groot bome, hierdie jaar met heerlike, soet vye. Ander jare reen dit te veel, bars hulle oop, raak suur. Vanjaar is daar genoeg. Vir ons, vir die voels en die ape.
     Ek was in Spanje, net noord van Barcelona- een oggend vroeg op ‘n melkplaas. Terwyl ek vir my gids wag om te hoor of ons mag inkom, kom ‘n tannie (wat is ‘n antie in Spaans?) by die sifdeur uit, ja.. sif, met ‘n mandjie en begin vye pluk vanuit ‘n klompie pragtige, groot bome. My mond begin te water en my kop sit op loop. 
    In Oupa Jan se erf was daar 3 sulke groot vyebome (of dalk was ek maar net klein) met vye wat oral weggekruip het. Heerlik. Soet. Vye. Turksvye (die is ook in my tuin). Kwepers- langsaan in die Louws se erf (die het ek ook hier geplant)en natuurlik granate.  
    Hier is dit ‘n mislukking danksy die vrugtevliee. Dis onse wereld daai, Van Wyksvlei. Die lekkerste druiwe in die Brinks se tuin.
Toe was daar water. Windpompe. Leivoor. Moerbeie agter die Burgers se huis. Verder af die Bloekombos met die foefieslaaid.
    Skryf, “Cut en Paste” Van Der Spuy en help ons onthou.