Total Pageviews

Thursday, March 15, 2012

Tollie Burger


Ek is Tollie Burger en het regte name vir die wat nie weet nie. Carel Johannes.
VDS en Annien, hierdie webtuiste is die beste ding sedert KFC. Hou so aan. Die oud VWV'S, komaan manne en meisies. Help met bydraes.Die vloedgolf van herinneringe laat man skoon nostalgies voel as jy die bydraes lees. Soveel mooi stories ens.

Het op Vanwyksvlei skool gegaan tot std 5. 1964. Daarvandaan Pretoria toe na Prinshofskool vir swaksiendes. Matriek 1969. Begin in 1970 by Eskom te werk in die kommunukasie bedryf en het dit vir die grootste deel van my loopbaan gedoen. Tree einde Maart 2012 af weens mediese ongeskiktheid.  Was getroud met Joy Du Toit, geen kinders en sy is hemel toe op 15 Mei 2011.

Groetnis
Tollie Hans

Johan Joubert

Ou Tol bel my gister en vertel my van hierdie wonderlike ding. Van der Spuy dit is sommer lekker om te lees van almal. Ek, Johan Joubert (of “Hannie Ber” soos ou Tol altyd gesê het), woon nou reeds 16 jaar op Piketberg. Tree die einde van die maand uit diens na 35 jaar in die skoolhou-besigheid. Is nou ‘n Kringspanbestuurder, in die ou-dae ‘n “skool-inspekteur”.  

My vrou Suzette is in Augustus 2011 aan kanker oorlede. Ek het vier pragtige kinders waarvan die jongste twee ‘n tweeling is wat nog studeer op Stellenbosch. Die oudste seun is getroud maar die kleinkinders is nog nie op pad nie. Ek gaan my op Hartenbos vestig waar my huis is. Eintlik is jou huis mos waar jou kinders is, soos Coenie de Villiers sing in “Hart van Glas”. Ek sal weer in 2013 begin werk as dit so beskore is.

Ons was bevoorreg om die afgelope klompie jaar redelik gereeld op Vanwyksvlei te kom. Theo en Nana Avenant het daar gaan aftree en ons het ‘n kuierplek gehad. Wonderlik om daar so tussen die randjies en die swartklippe te kan rondloop. Ek was maar 13 jaar oud toe ons Kaap toe getrek het na standerd vyf. Al was ek nog jonk sal die Karoo nooit uit my bloed kom nie. As ons so Vanwyksvlei toe gery het, het ek altyd vir my vrou gesê hoe mooi dit is dan wou sy weet, “hoe kan die swart klippe dan mooi wees”.  Jul sal weet van dié mooi.

Waar is die dae toe ons ouma Kokkie (ant Hester de Kock) se voorgras stukkend gespeel het. Ek, Stompie, VDS, ou Tol, Piet de Kock, Johan Visser en nog meer. Dan ook nog kennikie in die agterstraat saam met die groot manne. Toe ons in standerd drie was, was die groot manne in standers ses en sewe. Middae het hul (Boetie, Donnie, Ruben en oom Ras se seuns) in ouma Kokkie se garage gaan rook voor hul die perde “bewerk” het.  Dan het ons klomp kleintjies hul darem bewonder.

En dan het ons ook vrugte gesteel by almal op die dorp. Granate by oom Ras, lemoene by oom Hansie. Tol was saam as ons by sy pa die steelwerk doen. By die pastorie kon ek en Stompie niks anders kon vaslê as blomkool nie. Ai en waar is die Tarzan-flieks in die kerksaal.

Sien jul Paasnaweek 2013 op Vanwyksvlei.

Charline Hewett (de Kock)


Ek is Charline Hewett (de Kock), vierde dogter van Charles en Hester de Kock van Kom Nader (6 kinders).  Ek was die naweek op 'n stunning troue in Franschoek van Yolandie van Niekerk, dogter van Attie en Ela van Niekerk, nou getroud met Craig Metrowitz.  Ela was Piet en Johanna Smit se dogter.  Sjoe, so kan ons aangaan en familie uitlê, lekker né.  Dit is sonder om politiek te praat!

Natuurlik op die troue was daar baie bekendes.  Oulike mense, almal VanWyksvleiers.  Die ene Ais Eastern, Floors en Aletta se vierde kind, vertel my toe van die wonderlike kommunikasie op die internet.  Ai, die nostalgie het my in ‘n ystergreep.  Sien net al die jong mense wat briewe skryf.  So ek krap 'n gaatjie vir my generasie klomp, maar sien darem ook daar vir Ansie Burger en Winston Alston. 

Ek is ook nie op Facebook nie, te tyd rowend.  Ek woon al dertig jaar in Seepunt, het een seun, William Hewett.  Hy gee klas in Denemarke en doen “chaos piloting” in Colombia, Bogota.

Wil nie sê totsiens nie, maar sien julle weer op hierdie lekker kommunikasie blad.

Liefde groete
Charline Hewett