Total Pageviews

Saturday, February 25, 2012

Piet Kruger

Goeiedag uit die VSA,

Ek was nog nooit in my lewe in Vanwyksvlei nie, maar het van die plek gehoor toe ek vir my jaar diensplig in 1968 in die Lugmag was. Ek en 23 ander manne was vir die vegterbeheer offisierskursus op Waterkloof lugmagbasis gestasioneer waar ons die 5 maande kursus voltooi het.

Een van die manne was Van Zyl Brink, predikantskind uit Vanwyksvlei, 'n baie aangename man en 'n goeie vriend. Altyd reg vir sports.

Een lang naweek (ek dink dit was paasnaweek of hemelvaart) het Van Zyl besluit hy ryloop Vanwyksvlei toe. Hy het sover as (ek dink) Prieska gekom, toe besluit hy dat hy dit nie heen en weer gaan maak nie. Toe daar ook dan 'n motor van die ander kant af kom, stap hy oor die pad en begin sy tog terug Pretoria toe, waar hy betyds terug was om die verlore slaap in te haal en reg te wees vir die volgende werksdag!

Piet Kruger (vroeer van Ellisras)
Holly Springs
North Carolina VSA

Thursday, February 23, 2012

Annelie de Bruyn ( dogter van Annie Kokt)


Ek is 'n kleindogter is van Ouma Hanna Kokt wat al haar jare in VanWyksvlei gewoon het sy het 10 kinders gehad en almal is op Vanwyksvlei deur die skool.

Ek onthou die vakansie by Ouma soos gister . My Tannie Irene Kokt het al die jare in die sentrale gewerk en toe later Posmeesteres geword en sy woon nou by haar oudste seun Johnny in Bloemfontein.

Sy het my ouma opgepas tot die dag van haar dood.  My ouma was bekend by almal want daar was min mense wat nie by, soos hulle haar genoem, het Ouma Hanna eers kom groet het nie.



Sunday, February 19, 2012

Ruben Avenant


Ek het so met n ompad hierdie adres gekry en lees toe so van die ouens se stories. Ek was veral bly om van Philip en Annien te hoor al baie gewonder wat van hulle geword het.

Ek het ook 1963 gestanderd 8 toe Paarl toe.Langstorie kort ek is nou op Bothaville woonagtig nog steeds in die versekerings bedryf en sal soos Stompie se daar bly tot ek omval.

Ek sal die ander se stories lees sodra ek tyd kry, moet se my gedagtes loop op verpaaie.

Hannelie en Jan van Wyk

Dit is met 'n swaar gemoed wat ek die stuur, want ek weet julle gaan 'n ongelooflike lekker tyd hê daardie paar dae, netsoos die Vanwyksvleiers kan saam kuier.  Ek en Jan (my man) ek was Moolman, het nog familie in Vanwyksvlei.  

Ongelukkig moet hy die Two Oceans gaan hardloop. My deel wat ek wil bydra is.  "There is no place like home" en aan almal geniet dit.  Ons harte brand.Baie liefde Jan en Hannelie van Wyk. NS: Ons sal 'n glasie op jul klink!

Elton Hurst

Baie mooi webtuiste.

Sal  bietjie vir my ma wys. Sy is 'n oud Vanwyksvleier. Marinda Claassen. Haar pa was Piet Claassen en ma Esma Claassen. My oupa posmeester vir jare op die dorp. My ma het 2 sisters gehad. Sandra Claassen en Tertia.

Was jare laas in Vanwyksvlei.
Nog net my ma, Marinda en haar sister, Tertia wat nog lewe.
 
My oupa "Piet Pos" is in 1993 oorlede en ouma Esme in 2004 aan Motor Neuron siekte.

 
Sandra die middel suster is in 1980/1981 vermoor.

 

Saturday, February 11, 2012

Lafras Moolman

Ek het aan die begin van my skoolgaan ,1954 ,by tannie Ricey v/d Merwe loseer en later by my ouma, sy was woonagtig in die ou pastorie.

Om met "Dinky toys" te speel en fiets te ry was ons groot tydverdryf. Ek en Pieter Mostert, sy pa was onderwyser, het 'n hele uitleg gehad in my ouma se erf, plase , dorp , paaie ens wat ons met ons "Dinky toys" bedryf het. Hennie van Heerden en Frikkie Luttig was my fiets maats en ons het mekaar weer uitgedaag met fietse. Kleilat gooi langs die leivoor, kennetjie en blik aspaai was ook lekker speletjies.

Baie nuwe motors van die gemeenskap het ook 'n indruk op my gemaak as kind. Oom Vivien White se linkerstuur Chev Belair, 1957, was indrukwekkend so ook oom Christiaan White, Aletta se pa , se blou Chevrolet, oom Piet de Kock se geel Dodge en so kan ek baie motors van ooms onthou.

Na ek st agt voltooi het , het ek na Jan van Riebeeck Kaapstad gegaan vir een jaar, maar was nie suksesvol nie en het toe matriek in Carnarvon voltooi. Daarna na die weermag en toe Grootfontein Landbou Kollege. Getroud met Charlene Marais en 3 kinders en 2 kleinkinders. My seuns woon in die Kaap, besit hul eie maatskappy , bou en doen opgradering van fabrieke en my dogter gee onderwys in London.

Ek woon in Glentana en is nog betrokke met die boerdery in Vanwyksvlei distrik, plaas Brilsedam.

Ek probeer ou fotos van ons mense, skoolfotos, familie fotos of van enige aktiwiteite van destyds in Vanwysvlei te versamel en sal dit waardeer as dit aan my per e-pos gestuur word.

Sien julle by die fees.

Groetnis uit Glentana

Thursday, February 2, 2012

Miemie Van Wyk



Het nou lekker gekuier op die Vanwyksvlei webwerf en gelees oor Tannie Maude en Oom Arthur, die vloed en al die ander….Hulle oudste seun is hier in Vryheid KZN geneesheer.
     So 22 jaar gelede is ek en my oorlede man Hercules Anderson hierheen verplaas. Hy was bestuurder by die plaaslike Trust Bank.Net 8 maande later moes ek desperaat in die nuwe dorpie ‘n Dokter skakel toe my man ‘n massiewe hartaanval kry.
     Die dokter was Dr. Cedric Alston en wat was my verbasing toe ek hoor hy kom vanaf Vanwyksvlei.Toe hy sy kop skud het ek geweet Hercules is vir goed weg, maar wat ‘n vertroosting was dit nie om iemand so vreemd maar tog ook so bekend se hand op my skouer kon hê.
      Hy was ‘n groot troos tot Ma Anna vanaf Stinkbrak kon arriveer om verder vertroosting en bystand te kom gee.
     Ek is 16 jaar gelede weer getroud en my van is nou Kemp. Dankie vir die webwerf. Ek sal beslis ‘n gereelde besoeker wees. As enige van julle hier deur Vryheid ry, draf gerus in vir ‘n lekker koppie boeretroos.
Groetnis aan julle almal.


 Miems Kemp     

Wednesday, February 1, 2012

Jan en Ina Botes


Ons was in Vanwyksvlei vanaf 1977 tot 1981.  Ons kinders (3) beskou Vanwyksvlei as hulle grootword dorp.  Hulle het die skool daardie jaar laat groei tot 42.
    Kort na ons koms daar het ons 'n funksie gehou en my vrou wou baie graag slaaie saam met die braaivleis bedien.  (Stads-idee)  Die gemeente vroue het die idee gelate aanvaar maar die hoeveelhede verminder.  En met groot verontwaardiging moes Mev Ds agterna besef dis vleis-etende mense, slaaie tel nie.  (want vir groente slag hulle varke)
     Ek herinner my aan 'n brand wat uitgebreek by die water-voor langs die dorp.  Omdat daar nie 'n brandweer was nie, moes almal kom help vuurslaan.  Daar het ons die aand gesien wie is die slaners en wie is die toeskouers.
     Ons het 4 hans-lammers present gekry.  Natuurlik moes die pastorie ma hulle met bottels voed.  Ons jongste het elke dag met hulle deur die dorp gaan stap.
     Een Vrydag oggend tydens 'n vroue-biduur in die kerk, het mev Ds 'n geraas by die hoofingang van die kerk gehoor.  Verskeie moontlikhede het deur haar brein geflits, maar tot haar ontsteltenis het sy haar jongste se klein koppie bokant die banke sien uitkom.  Sy het onmiddelik stilgebly want sy het besef as sy een woord sê gaan die hanse op haar afstorm vir melk.  Sy het aan die jongste beduie dat hy by die sy deur van die kerk moet uit met sy hanse. 
     En toe die hele petalje verby was, kon mev Ds aan die waardige tannies voor haar met die groot rand hoede van daardie tyd, voortgaan met haar boodskap van die oggend.

Ons het mooi herinneringe aan Vanwyksvlei.