Total Pageviews

Tuesday, July 6, 2021

Oom Frans Venter

 


Dis laerskool tye en die sestigs toe Oom Herman Venter finaal ophou om te boer en sy seun Frans moet oor neem. 

Oom Frans werk vir die Rand Daily Mail in Johannesburg, 'n Bloedsap natuurlik en nou moet hy, sy vrou en twee kinders Vanwyksvlei toe trek in die middel van niks in die Boesmanland.

Daar op sy plaas Constantia so twintig myl (oeps, so dertig kilometer) uit op die Kenhardt pad is dit net stof en niks. Geen krag maar darem 'n partylyn wat jy met ander deel en hulle jou afluister as jy bel.

Hy skryf toe Swart Pelgrim oor die lewe van 'n swart man in die woeste ou dae. Die owerhede en Broederbonders haat hom, wie dink hy is hy? Tog kry hy die Hertzogprys daarvoor!

Opgevolg deur die Groot Trek boeke en Geknelde Land kry ook die groot prys. Als met die oudtydse Olivetti en sy een vinger getik

Elke Saterdag kom speel hy tennis en gebruik nogal sterk taal as hy die bal in die net vas slaan.

Oom Frans moet 'n lewe maak en om te boer nie sy sterk punt nie. Hy is 'n skrywer wetende dat met super literatuur en Hertzog pryse jy nie Standard Bank sal tevrede stel nie. Nou skryf hy slapband boekies met Meiring Fouche sy een skuilnaam.

Hy dink die storie uit, vanaand steek 'n kers aan, sit die band op die ou bandmasjien wat deur 'n twaalf volt battery aangedryf word. Krag kom uit die windlaaier. Dan praat die oom!

Hy "skryf" so 'n hele boek van so honderd bladsye in een aand! Pos dan die band vir die uitgewers wat dit tik en publiseer! Vandag se groot mond skrywertjies aanlyn gekoppel en sny, plak en tweet het geen idee van hoe kreatiwiteit werk nie. Oom Frans was 'n kreatiewe held!

Vyftien jare later, ek nou groot en getroud ontmoet ons weer in Bellville.

Hy word ouer en gaan bly in die ouetehuis in Die Strand. Alzheimers skop in, en hy skryf weer 'n blitsverkoper, "Toe ek my naam vergeet het ... "

Dankie Oom Frans, jy het my geleer, "Moenie opgee nie!"

Monday, July 8, 2013

Pierre Bruwer

My pa het in die omgewing van Vanwyksvlei sy eerste jare deurgebring, sy pa (Oupa Jan) was 'n trekboer. Dit was in die jare 1919 tot sowat 1925. 

My pa was sowat 9 jaar oud toe hy vir die eerste maal skool toe is. Dit was op Vanwyksvlei. Sy oom, Lodewyk Bruwer het op Hartogskloof geboer en my pa het vertel dat Oupa Jan iewers in die klip koppies op Hartogskloof my pa se handafdruk met 'n stuk yster afge-ets het sy naam daarby gesit het. 

My pa was Johann Wilhelm Bruwer en ek wil graag eendag dit op Hartogskloof gaan soek. 

Oupa Jan het later op Geluk, tussen Brandvlei en Williston gaan boer. My pa het sy skool verder voortgesit op Brandvlei en toe Boys High.

Thursday, November 8, 2012

Anneke Krynauw

Ek het vanoggend die allerwonderlikste 'ding' ontdek: die webblad oor Vanwyksvlei! Sal vanaand as ek by die huis is hopelik rustig kan lees aan almal se stories.

Ja, ek was die skoolhoof se dogter ... Ons het in Oktober 1957 in Vanwyksvlei aangekom (ek was toe in Sub A) en daar gewoon tot April 1962. My broer, Kosie is daar gebore in 1958.

Die 'vloek' van die familie rus op my want ek is ook 'n onderwyser - Wiskunde. Woon tans in Houtbaai waar ek skoolhou by die International School of Hout Bay - 'n wêreld verwyderd van Vanwyksvlei met die bloekombome op die skoolgrond (seker nie meer daar nie?)

Dis so lekker om name te sien van mense wat ek goed kan onthou: Stompie Burger, Johan Joubert, Philip Burger, Miemie van Wyk, Van der Spuy Brink, Annien Pieters, ens. 


Dit voel vir my asof ek 'n geskenksak gekry het vol van lekker dinge, en dis nog nie eens Kersfees nie! Ek het nogal so in my agterkop begin beplan aan 'n moontlike kuier op Vanwyksvlei gedurende die Desember-vakansie, want ek smag na die wye oop vlaktes van die Karoo met sonbesies in die dag en baie sterre in die aand. Ek het glad nie geweet van die kerk se eeufees nie...

Ek dink nie ek het veel foto's van die tyd wat ons daar gewoon het nie, behalwe die ene wat reeds êrens op die webblad verskyn van die Krynauw-gesin; geneem in die pastorie se tuin, net voordat ons weg is.

Maar die herinneringe... genoeg om 'n boek te skryf!

Sal later weer klets en wil graag kontak maak met enigeen wat my nog kan onthou.

Mooi loop!

Friday, October 26, 2012

Willem Witbooi

Ek is bly vir die nuus wat ek kan lees wat Vanwyksvlei betref.

Ek het opgegroei in die plek.
Soutbosse, driedoring, gannabos, ysterdoring. 

Dankie aan Andre Oberholzer vir so 'n goeie projek.Jy sal my seker nie meer onthou nie.My noemnaam is Stokes.Ons twee het altyd baie saam gespeel.

Vanwyksvlei bly maar mooi.

Thursday, July 12, 2012

Philip De Bruyn (Flippie)

Ek het my laerskool dae by tannie" Breggie" loseer, ons was n hele paar my suster Rulene, Pienkies Blaauw , Matie le Roux kan nie almal onthou maar dit was lekker!

Johan Mans het langs ons gebly, ons het altyd klei-lat gegooi teen die koshuis kinders en geswem in die voor.

Ek kan eendag onthou hoe ons n muishond by tant Breggie se hoenders moes jaag en dit vir Matie natgemaak het en het hy gestink, dankie vir Dettol in die bad het dit beter gegaan.

Ai hy het ook nog die kerkklok gelui en toe haak die hakie onder by die ketting sy broek en skeur dit net voor die kerk begin en moes eers 'n ander broek gaan aantrek.

Ons het ook lekker kwepers gaan steel, kan nie meer onthou by wie.

Ek het nog baie stories maar los vir later.

My Pa is verlede jaar 22Mei 2011 oorlede, en ons gaan nog gereeld plaas toe (Nieuwedam).

Ma Liena bly op Upington maar ai sy is n traveller nou!

Ek woon ook op Upington ('n Elektrisiën)

En as ek in dorp kom gaan groet ek altyd vir Tant Breggie, wat 'n wonderlikke mens !

Nouja Groete,

Flippie De Bruyn

Thursday, April 26, 2012

Acy Kotze (de Kock)

Baie dankie aan almal wat al hulle stories met ons gedeel het dit bring soveel herinneringe terug. Ek is baie gelukkig om nog steeds gereeld op Vanwyksvlei te kuier by broer Vasie en al die onthous te herleef met soveel nuwe gesigte van kinders en kleinkinders wat nog daar is.


Is in 1950 skooltoe en loseer saam met Schalk en Ansie Buger en Gerhard Visser,Marien Pieters en Louis Gouws (laaankal nie meer met ons) by Mnr.en Mev. Koos Mostert en hul seun Pieter n hele huisvol.Die volgende jaar toe Vasie en Kolie moes skooltoe gaan word die huis gebou (nou gastehuis) en Marien gaan bly by Ouma En Oupa in Leeukolk Huis met Ansie en Schalk langsaan. 

Hoe lekker was dit om gou pouses uit te glip in die winter vir n warm plaatkoekie by Ouma Annie. Ja Annien met so 'n Ouma moet jy daarvan hou om in die tuin te krap want sy het die mooiste blomtuin gehad. Ek en Marien wat lag vir Mnr.Hanekom se kuif (altyd pynlik netjies ) as ons moet luister as hy Boekhou verduidelik. Marien het altyd gelag. Ansie die dag toe Tant Anna du Preez se mak kraanvoel jou gejaag het (het seker geweet jy gaan die hardste skree!)

Hannie Ber was 3 weke oud toe hy en sy Ma by my, Vasie en Kolie moes bly met Pieter se geboorte in Prieska
Piet Fourie my Pa was ook n Hannes Walters man maar ek en my Ma het gereeld oorgeglip na Gerber want daar het Amanda en Issie die mooiste materiaal verkoop en nou verkoop Tant Max daar heerlike biltong.

Johnny, ek was ook vir 10 jaar op Christana en het nog kontak met Rita Nieuwhoudt, Ben, Org en Lisbie het voor my groot geword.Ek stem saam dat jy nie nog vye,kwepers en granate kry soos op Vanwyksvlei nie al moet jy dit gesteel het want daar was oorvloed. Die lekkerste skaapboude kom nog steeds van VWV.

Ek sien nog Ds.Brink as hy saans kom melk haal met die jongste Brinkies, Kokkie die regop wittetjie en Vander Spuy die blas enetjie met die stout gesiggie.

Ek het 'n seun Louis in New Zeeland met 1 keinseun daar en 'n dogter Hanle in die Kaap wat dink dat Vanwyksvlei is die beste plek is na die hemel.Ek het 4 jaar gelede afgetree by Absa Bank Tygervallei en geniet dit om besig te wees met alles waarvoor daar toe nie tyd was nie

Wou so graag by die fees wees maar dalk sien ons mekaar weer op Vanwyksvlei

Gielie Steenkamp

Ek verlang na Vanwyksvlei, My vriende, Tyre Coetzee,,Willie Smit, Frikkie Luttig, Apie Augustyn en al die ou koshuis vriende, my klasmaats en so baie van die ouer mense wat waarskynlik nie meer leef nie. SIEN JULLE 6 - 9 APRIL 2012 SOOS DIE HERE WIL. Hoop om baie vriende weer te sien na ek 1961 daar weg is. Goeie wense, Gielie Steenkamp