Total Pageviews

Thursday, March 15, 2012

Johan Joubert

Ou Tol bel my gister en vertel my van hierdie wonderlike ding. Van der Spuy dit is sommer lekker om te lees van almal. Ek, Johan Joubert (of “Hannie Ber” soos ou Tol altyd gesê het), woon nou reeds 16 jaar op Piketberg. Tree die einde van die maand uit diens na 35 jaar in die skoolhou-besigheid. Is nou ‘n Kringspanbestuurder, in die ou-dae ‘n “skool-inspekteur”.  

My vrou Suzette is in Augustus 2011 aan kanker oorlede. Ek het vier pragtige kinders waarvan die jongste twee ‘n tweeling is wat nog studeer op Stellenbosch. Die oudste seun is getroud maar die kleinkinders is nog nie op pad nie. Ek gaan my op Hartenbos vestig waar my huis is. Eintlik is jou huis mos waar jou kinders is, soos Coenie de Villiers sing in “Hart van Glas”. Ek sal weer in 2013 begin werk as dit so beskore is.

Ons was bevoorreg om die afgelope klompie jaar redelik gereeld op Vanwyksvlei te kom. Theo en Nana Avenant het daar gaan aftree en ons het ‘n kuierplek gehad. Wonderlik om daar so tussen die randjies en die swartklippe te kan rondloop. Ek was maar 13 jaar oud toe ons Kaap toe getrek het na standerd vyf. Al was ek nog jonk sal die Karoo nooit uit my bloed kom nie. As ons so Vanwyksvlei toe gery het, het ek altyd vir my vrou gesê hoe mooi dit is dan wou sy weet, “hoe kan die swart klippe dan mooi wees”.  Jul sal weet van dié mooi.

Waar is die dae toe ons ouma Kokkie (ant Hester de Kock) se voorgras stukkend gespeel het. Ek, Stompie, VDS, ou Tol, Piet de Kock, Johan Visser en nog meer. Dan ook nog kennikie in die agterstraat saam met die groot manne. Toe ons in standerd drie was, was die groot manne in standers ses en sewe. Middae het hul (Boetie, Donnie, Ruben en oom Ras se seuns) in ouma Kokkie se garage gaan rook voor hul die perde “bewerk” het.  Dan het ons klomp kleintjies hul darem bewonder.

En dan het ons ook vrugte gesteel by almal op die dorp. Granate by oom Ras, lemoene by oom Hansie. Tol was saam as ons by sy pa die steelwerk doen. By die pastorie kon ek en Stompie niks anders kon vaslê as blomkool nie. Ai en waar is die Tarzan-flieks in die kerksaal.

Sien jul Paasnaweek 2013 op Vanwyksvlei.

No comments:

Post a Comment