Total Pageviews

Thursday, October 27, 2011

(Klein) Schalk Burger

Ek het van die webtuiste bewus geword toe ek ‘n brief van die N.G. Kerk op Vanwyksvlei ontvang het wat gerig was aan my skoonpa, Jack Visser.  Hy is omtrent 9 jaar gelede oorlede.  My skoonma leef nog en was pas 90 jaar oud.  Sy woon in Hartenbos.  Ek is getroud met Rina, die oudste kind van Jack en Pop Visser.  Rina se broers is Piet Tekkies, Jan en Tem.  My skoonpa se broers was Ds. Ben Visser wat vroeër predikant op Vanwyksvlei was, sowel as oom Gielie Visser wat later met tant Ellie getroud was.

Ek het in 1961 standerd 8 geslaag op Vanwyksvlei en is daarna na die Hoër Jongenskool in die Paarl waar ek in 1963 matriek geslaag het.  Daarna weermag toe vir 9 maande opleiding waarvan drie maande in die Diensvakskool in Pretoria en 6 maande op Upington.  Dit is op Upington wat ek weer vir Rina raakgeloop het en is 1966 met haar getroud.  Ons het 4 kinders, twee dogters en twee seuns.  Ons jonger dogter en die twee seuns is almal op die 10de Mei gebore in die jare 1970, 1972 en 1974.  Ons is ryklik geseën met 9 kleinkinders, 6 seuns en 3 dogters.

Ek het op Vanwyksvlei in die Standard Bank begin werk op 2 Januarie 1965 met die ongelooflike salaris van R79 per maand.  Daarna het ons die land deurkruis soos wat die bank ons verplaas het.  Ek het later oorgegaan na Nedbank toe. Ons moes altesaam 14 keer trek.  Die laaste 10 jaar van my loopbaan het ons op Bloemfontein deurgebring waarna ons in 2004 na my aftrede na Kleinbrak verhuis het en hopelik hier sal kan aanbly tot die einde toe.

Ek dink soms terug aan die mense van wie meeste al vergeet het, soos oom Jasper Cloete, die opsigter by die skool met sy allemintige snor.  My pa en oom Ben Jovner was so lief om dambord teen mekaar te speel.  Oom Willie Vos het ons skoene reggemaak en hy het baie kwaad geword as ons hom vertel het die wêreld draai in die rondte. Oom Ras het baie geld gemaak met al die Peps lekkers wat ons daar by sy kafee gekoop het.  Sal ek ooit vergeet van die twaksakkie met die tiekies en sikspense wat hy in sy onderbaadjie se sak gedra het om Sondae voor kerk vir ons te help met kleingeld vir die kollekte.  Oom George Nolte het een somer vertel dat daar so baie muskiete is dat wanneer hy met sy sweep klap daar so ‘n bloedstreep deur die lug sit.

My broers en susters is oor die land versprei in Pretoria, Nelspruit, Welkom, Merweville, Somerset Wes, Paarl en Kraaifontein.  My suster, Herma, is reeds oorlede, en Tollie se vrou is ook onlangs oorlede.  Ja, hulle kap nou hier in ons bos!

Opregte dank aan Annien en Van der Spuy vir hierdie web tuiste.  Ek sien uit na verdere bydraes van die ander Vanwyksvleiers.

No comments:

Post a Comment