Total Pageviews

Thursday, April 26, 2012

Acy Kotze (de Kock)

Baie dankie aan almal wat al hulle stories met ons gedeel het dit bring soveel herinneringe terug. Ek is baie gelukkig om nog steeds gereeld op Vanwyksvlei te kuier by broer Vasie en al die onthous te herleef met soveel nuwe gesigte van kinders en kleinkinders wat nog daar is.


Is in 1950 skooltoe en loseer saam met Schalk en Ansie Buger en Gerhard Visser,Marien Pieters en Louis Gouws (laaankal nie meer met ons) by Mnr.en Mev. Koos Mostert en hul seun Pieter n hele huisvol.Die volgende jaar toe Vasie en Kolie moes skooltoe gaan word die huis gebou (nou gastehuis) en Marien gaan bly by Ouma En Oupa in Leeukolk Huis met Ansie en Schalk langsaan. 

Hoe lekker was dit om gou pouses uit te glip in die winter vir n warm plaatkoekie by Ouma Annie. Ja Annien met so 'n Ouma moet jy daarvan hou om in die tuin te krap want sy het die mooiste blomtuin gehad. Ek en Marien wat lag vir Mnr.Hanekom se kuif (altyd pynlik netjies ) as ons moet luister as hy Boekhou verduidelik. Marien het altyd gelag. Ansie die dag toe Tant Anna du Preez se mak kraanvoel jou gejaag het (het seker geweet jy gaan die hardste skree!)

Hannie Ber was 3 weke oud toe hy en sy Ma by my, Vasie en Kolie moes bly met Pieter se geboorte in Prieska
Piet Fourie my Pa was ook n Hannes Walters man maar ek en my Ma het gereeld oorgeglip na Gerber want daar het Amanda en Issie die mooiste materiaal verkoop en nou verkoop Tant Max daar heerlike biltong.

Johnny, ek was ook vir 10 jaar op Christana en het nog kontak met Rita Nieuwhoudt, Ben, Org en Lisbie het voor my groot geword.Ek stem saam dat jy nie nog vye,kwepers en granate kry soos op Vanwyksvlei nie al moet jy dit gesteel het want daar was oorvloed. Die lekkerste skaapboude kom nog steeds van VWV.

Ek sien nog Ds.Brink as hy saans kom melk haal met die jongste Brinkies, Kokkie die regop wittetjie en Vander Spuy die blas enetjie met die stout gesiggie.

Ek het 'n seun Louis in New Zeeland met 1 keinseun daar en 'n dogter Hanle in die Kaap wat dink dat Vanwyksvlei is die beste plek is na die hemel.Ek het 4 jaar gelede afgetree by Absa Bank Tygervallei en geniet dit om besig te wees met alles waarvoor daar toe nie tyd was nie

Wou so graag by die fees wees maar dalk sien ons mekaar weer op Vanwyksvlei

Gielie Steenkamp

Ek verlang na Vanwyksvlei, My vriende, Tyre Coetzee,,Willie Smit, Frikkie Luttig, Apie Augustyn en al die ou koshuis vriende, my klasmaats en so baie van die ouer mense wat waarskynlik nie meer leef nie. SIEN JULLE 6 - 9 APRIL 2012 SOOS DIE HERE WIL. Hoop om baie vriende weer te sien na ek 1961 daar weg is. Goeie wense, Gielie Steenkamp

Thursday, March 15, 2012

Tollie Burger


Ek is Tollie Burger en het regte name vir die wat nie weet nie. Carel Johannes.
VDS en Annien, hierdie webtuiste is die beste ding sedert KFC. Hou so aan. Die oud VWV'S, komaan manne en meisies. Help met bydraes.Die vloedgolf van herinneringe laat man skoon nostalgies voel as jy die bydraes lees. Soveel mooi stories ens.

Het op Vanwyksvlei skool gegaan tot std 5. 1964. Daarvandaan Pretoria toe na Prinshofskool vir swaksiendes. Matriek 1969. Begin in 1970 by Eskom te werk in die kommunukasie bedryf en het dit vir die grootste deel van my loopbaan gedoen. Tree einde Maart 2012 af weens mediese ongeskiktheid.  Was getroud met Joy Du Toit, geen kinders en sy is hemel toe op 15 Mei 2011.

Groetnis
Tollie Hans

Johan Joubert

Ou Tol bel my gister en vertel my van hierdie wonderlike ding. Van der Spuy dit is sommer lekker om te lees van almal. Ek, Johan Joubert (of “Hannie Ber” soos ou Tol altyd gesê het), woon nou reeds 16 jaar op Piketberg. Tree die einde van die maand uit diens na 35 jaar in die skoolhou-besigheid. Is nou ‘n Kringspanbestuurder, in die ou-dae ‘n “skool-inspekteur”.  

My vrou Suzette is in Augustus 2011 aan kanker oorlede. Ek het vier pragtige kinders waarvan die jongste twee ‘n tweeling is wat nog studeer op Stellenbosch. Die oudste seun is getroud maar die kleinkinders is nog nie op pad nie. Ek gaan my op Hartenbos vestig waar my huis is. Eintlik is jou huis mos waar jou kinders is, soos Coenie de Villiers sing in “Hart van Glas”. Ek sal weer in 2013 begin werk as dit so beskore is.

Ons was bevoorreg om die afgelope klompie jaar redelik gereeld op Vanwyksvlei te kom. Theo en Nana Avenant het daar gaan aftree en ons het ‘n kuierplek gehad. Wonderlik om daar so tussen die randjies en die swartklippe te kan rondloop. Ek was maar 13 jaar oud toe ons Kaap toe getrek het na standerd vyf. Al was ek nog jonk sal die Karoo nooit uit my bloed kom nie. As ons so Vanwyksvlei toe gery het, het ek altyd vir my vrou gesê hoe mooi dit is dan wou sy weet, “hoe kan die swart klippe dan mooi wees”.  Jul sal weet van dié mooi.

Waar is die dae toe ons ouma Kokkie (ant Hester de Kock) se voorgras stukkend gespeel het. Ek, Stompie, VDS, ou Tol, Piet de Kock, Johan Visser en nog meer. Dan ook nog kennikie in die agterstraat saam met die groot manne. Toe ons in standerd drie was, was die groot manne in standers ses en sewe. Middae het hul (Boetie, Donnie, Ruben en oom Ras se seuns) in ouma Kokkie se garage gaan rook voor hul die perde “bewerk” het.  Dan het ons klomp kleintjies hul darem bewonder.

En dan het ons ook vrugte gesteel by almal op die dorp. Granate by oom Ras, lemoene by oom Hansie. Tol was saam as ons by sy pa die steelwerk doen. By die pastorie kon ek en Stompie niks anders kon vaslê as blomkool nie. Ai en waar is die Tarzan-flieks in die kerksaal.

Sien jul Paasnaweek 2013 op Vanwyksvlei.

Charline Hewett (de Kock)


Ek is Charline Hewett (de Kock), vierde dogter van Charles en Hester de Kock van Kom Nader (6 kinders).  Ek was die naweek op 'n stunning troue in Franschoek van Yolandie van Niekerk, dogter van Attie en Ela van Niekerk, nou getroud met Craig Metrowitz.  Ela was Piet en Johanna Smit se dogter.  Sjoe, so kan ons aangaan en familie uitlê, lekker né.  Dit is sonder om politiek te praat!

Natuurlik op die troue was daar baie bekendes.  Oulike mense, almal VanWyksvleiers.  Die ene Ais Eastern, Floors en Aletta se vierde kind, vertel my toe van die wonderlike kommunikasie op die internet.  Ai, die nostalgie het my in ‘n ystergreep.  Sien net al die jong mense wat briewe skryf.  So ek krap 'n gaatjie vir my generasie klomp, maar sien darem ook daar vir Ansie Burger en Winston Alston. 

Ek is ook nie op Facebook nie, te tyd rowend.  Ek woon al dertig jaar in Seepunt, het een seun, William Hewett.  Hy gee klas in Denemarke en doen “chaos piloting” in Colombia, Bogota.

Wil nie sê totsiens nie, maar sien julle weer op hierdie lekker kommunikasie blad.

Liefde groete
Charline Hewett  

Saturday, February 25, 2012

Piet Kruger

Goeiedag uit die VSA,

Ek was nog nooit in my lewe in Vanwyksvlei nie, maar het van die plek gehoor toe ek vir my jaar diensplig in 1968 in die Lugmag was. Ek en 23 ander manne was vir die vegterbeheer offisierskursus op Waterkloof lugmagbasis gestasioneer waar ons die 5 maande kursus voltooi het.

Een van die manne was Van Zyl Brink, predikantskind uit Vanwyksvlei, 'n baie aangename man en 'n goeie vriend. Altyd reg vir sports.

Een lang naweek (ek dink dit was paasnaweek of hemelvaart) het Van Zyl besluit hy ryloop Vanwyksvlei toe. Hy het sover as (ek dink) Prieska gekom, toe besluit hy dat hy dit nie heen en weer gaan maak nie. Toe daar ook dan 'n motor van die ander kant af kom, stap hy oor die pad en begin sy tog terug Pretoria toe, waar hy betyds terug was om die verlore slaap in te haal en reg te wees vir die volgende werksdag!

Piet Kruger (vroeer van Ellisras)
Holly Springs
North Carolina VSA

Thursday, February 23, 2012

Annelie de Bruyn ( dogter van Annie Kokt)


Ek is 'n kleindogter is van Ouma Hanna Kokt wat al haar jare in VanWyksvlei gewoon het sy het 10 kinders gehad en almal is op Vanwyksvlei deur die skool.

Ek onthou die vakansie by Ouma soos gister . My Tannie Irene Kokt het al die jare in die sentrale gewerk en toe later Posmeesteres geword en sy woon nou by haar oudste seun Johnny in Bloemfontein.

Sy het my ouma opgepas tot die dag van haar dood.  My ouma was bekend by almal want daar was min mense wat nie by, soos hulle haar genoem, het Ouma Hanna eers kom groet het nie.