Total Pageviews

Sunday, February 19, 2012

Elton Hurst

Baie mooi webtuiste.

Sal  bietjie vir my ma wys. Sy is 'n oud Vanwyksvleier. Marinda Claassen. Haar pa was Piet Claassen en ma Esma Claassen. My oupa posmeester vir jare op die dorp. My ma het 2 sisters gehad. Sandra Claassen en Tertia.

Was jare laas in Vanwyksvlei.
Nog net my ma, Marinda en haar sister, Tertia wat nog lewe.
 
My oupa "Piet Pos" is in 1993 oorlede en ouma Esme in 2004 aan Motor Neuron siekte.

 
Sandra die middel suster is in 1980/1981 vermoor.

 

Saturday, February 11, 2012

Lafras Moolman

Ek het aan die begin van my skoolgaan ,1954 ,by tannie Ricey v/d Merwe loseer en later by my ouma, sy was woonagtig in die ou pastorie.

Om met "Dinky toys" te speel en fiets te ry was ons groot tydverdryf. Ek en Pieter Mostert, sy pa was onderwyser, het 'n hele uitleg gehad in my ouma se erf, plase , dorp , paaie ens wat ons met ons "Dinky toys" bedryf het. Hennie van Heerden en Frikkie Luttig was my fiets maats en ons het mekaar weer uitgedaag met fietse. Kleilat gooi langs die leivoor, kennetjie en blik aspaai was ook lekker speletjies.

Baie nuwe motors van die gemeenskap het ook 'n indruk op my gemaak as kind. Oom Vivien White se linkerstuur Chev Belair, 1957, was indrukwekkend so ook oom Christiaan White, Aletta se pa , se blou Chevrolet, oom Piet de Kock se geel Dodge en so kan ek baie motors van ooms onthou.

Na ek st agt voltooi het , het ek na Jan van Riebeeck Kaapstad gegaan vir een jaar, maar was nie suksesvol nie en het toe matriek in Carnarvon voltooi. Daarna na die weermag en toe Grootfontein Landbou Kollege. Getroud met Charlene Marais en 3 kinders en 2 kleinkinders. My seuns woon in die Kaap, besit hul eie maatskappy , bou en doen opgradering van fabrieke en my dogter gee onderwys in London.

Ek woon in Glentana en is nog betrokke met die boerdery in Vanwyksvlei distrik, plaas Brilsedam.

Ek probeer ou fotos van ons mense, skoolfotos, familie fotos of van enige aktiwiteite van destyds in Vanwysvlei te versamel en sal dit waardeer as dit aan my per e-pos gestuur word.

Sien julle by die fees.

Groetnis uit Glentana

Thursday, February 2, 2012

Miemie Van Wyk



Het nou lekker gekuier op die Vanwyksvlei webwerf en gelees oor Tannie Maude en Oom Arthur, die vloed en al die ander….Hulle oudste seun is hier in Vryheid KZN geneesheer.
     So 22 jaar gelede is ek en my oorlede man Hercules Anderson hierheen verplaas. Hy was bestuurder by die plaaslike Trust Bank.Net 8 maande later moes ek desperaat in die nuwe dorpie ‘n Dokter skakel toe my man ‘n massiewe hartaanval kry.
     Die dokter was Dr. Cedric Alston en wat was my verbasing toe ek hoor hy kom vanaf Vanwyksvlei.Toe hy sy kop skud het ek geweet Hercules is vir goed weg, maar wat ‘n vertroosting was dit nie om iemand so vreemd maar tog ook so bekend se hand op my skouer kon hê.
      Hy was ‘n groot troos tot Ma Anna vanaf Stinkbrak kon arriveer om verder vertroosting en bystand te kom gee.
     Ek is 16 jaar gelede weer getroud en my van is nou Kemp. Dankie vir die webwerf. Ek sal beslis ‘n gereelde besoeker wees. As enige van julle hier deur Vryheid ry, draf gerus in vir ‘n lekker koppie boeretroos.
Groetnis aan julle almal.


 Miems Kemp     

Wednesday, February 1, 2012

Jan en Ina Botes


Ons was in Vanwyksvlei vanaf 1977 tot 1981.  Ons kinders (3) beskou Vanwyksvlei as hulle grootword dorp.  Hulle het die skool daardie jaar laat groei tot 42.
    Kort na ons koms daar het ons 'n funksie gehou en my vrou wou baie graag slaaie saam met die braaivleis bedien.  (Stads-idee)  Die gemeente vroue het die idee gelate aanvaar maar die hoeveelhede verminder.  En met groot verontwaardiging moes Mev Ds agterna besef dis vleis-etende mense, slaaie tel nie.  (want vir groente slag hulle varke)
     Ek herinner my aan 'n brand wat uitgebreek by die water-voor langs die dorp.  Omdat daar nie 'n brandweer was nie, moes almal kom help vuurslaan.  Daar het ons die aand gesien wie is die slaners en wie is die toeskouers.
     Ons het 4 hans-lammers present gekry.  Natuurlik moes die pastorie ma hulle met bottels voed.  Ons jongste het elke dag met hulle deur die dorp gaan stap.
     Een Vrydag oggend tydens 'n vroue-biduur in die kerk, het mev Ds 'n geraas by die hoofingang van die kerk gehoor.  Verskeie moontlikhede het deur haar brein geflits, maar tot haar ontsteltenis het sy haar jongste se klein koppie bokant die banke sien uitkom.  Sy het onmiddelik stilgebly want sy het besef as sy een woord sê gaan die hanse op haar afstorm vir melk.  Sy het aan die jongste beduie dat hy by die sy deur van die kerk moet uit met sy hanse. 
     En toe die hele petalje verby was, kon mev Ds aan die waardige tannies voor haar met die groot rand hoede van daardie tyd, voortgaan met haar boodskap van die oggend.

Ons het mooi herinneringe aan Vanwyksvlei.

Wednesday, January 25, 2012

Johnny Visser


Wat ‘n voorreg om herinner te word aan jou kleintyd en dit nogal deur mense wat dit saam met jou deurgemaak het. Baie dankie Van der Spuy en Annien vir julle inisiatief en ook aan elkeen wat sy/haar storie vertel het.
      Ek is bevoorreg om steeds my wortels in die omgewing te hê, aangesien ek deeltyds boer op ons familieplaas, Loskop.
     Gepraat van groot klasse: in St 7, as ek reg onthou was ons net 3, ek Erna van Wyk en Anita Bruwer.
     Na St 8 is ek Carnarvon toe vir St 9 en Matriek, daarna my deel gaan doen vir volk en vaderland. In 1975 klaar studeer op Stellenbosch (Landbou) en my lewensreis begin. My loopbaan is in die veevoerbedryf, nog steeds.
     Ons Loskop-Vissertjies was vyf- ek, Trudie, Diana  (oorlede), Annalize en Louise. Trudie bly in Springbok en Annalize en Louise in Prieska. Pa Boet en Ma Anna is ook reeds oorlede.
     In 1978 is ek met Lizelle getroud en ons het 3 kinders, ‘n dogter en twee seuns, asook 2 kleinkinders. Ons het in Malmesbury begin en is daar weg in 1982- Klerksdorp toe. Daarvandaan in Vryburg gaan draai en toe Christiana toe, waar ons steeds ‘n nessie het.
     Tot en met St.4 het ek by Oupa Jan en Ouma Daisy loseer en daarna is ek koshuis toe. Ander loseerders saam met my by Oupa en Ouma was Gert White en vir ‘n rukkie Gert Visser. Ons teen-aan bure was die Louws. Tannie Martha was ‘n tweede Ma vir my en ek en Jan het saam geboer. Cowbows en Kroeks gespeel en damme in die straat gebou (sommer as dit droog is ook- die hoop beskaam immers tog niet)-  tot die ergenis van die grootmense wat dit gereeld stukkend gery het. Dit was die dae van 5c sakgeld per week waarmee jy ‘n groot, vol blik kondensmelk kon koop, of ‘n “trompet” vol lekkers by Oom Ras.
     Oorkant ons was een van die eerste huisies in Van Wyksvlei. Een van modder en strooi. Anna (ek kan nie hulle van onthou nie) en haar Ma het toe nog daar gebly.
     Wonderlik was die manier waarop ons ouers en hulle werkers interaksie gehad het. Met groot respek vir mekaar. Ons kinders was gou getugtig wanneer ons nie respek aan die werkers getoon het nie. Ek wil vir julle ‘n staaltjie vertel rondom Karools Tieties, ‘n man waarvoor ek baie lief was en by wie ek oneindig baie geleer het en wat baie jare vir ons gewerk het.
      ‘n Man, soos sy voorsate, met ‘n ongelooflike waarnemings vermoe. Ek en Karools het een aand op die plaas in die asbosskerm rondom ‘n vuurtjie waarop ‘n skaaptjoppie begin verbruin het, sit en gesels toe daar ‘n spoetniek oorkom. Toe ek opmerk dat ek darem baie lanklaas ‘n sattelliet gesien het, wou Karools weet of ek “daai ding” al goed bekyk het.
      “Wag,” was sy opmerking, “as daar nou weer een oorkom, sal ek jou wys”. (deesdae is daar mos feitlik nie meer sulke goed te siene nie, of kyk ek maar net te min in die lug op?) Kort voor lank kom daar een oor. “Sien jy hom?,” vra Karools. “Daar gaan hy nou net by die 3 konings verby”. 
    “Ek sien hom!”  
     Karools,  “ Daar gaan hy nou oor die bult by die sewe susters verby- weg is hy.” Ek het gesien, Karools. Ja, Jontels, maar jy het nie mooi gekyk nie.
     “Nou wat het ek dan gemis, ek dog ek het hom mooi gesien”. Nou het jy dan nie gesien dat “daai ding” nie briekligte het nie? Kostelik- en waar en ek mis hom verskriklik.
     Dan was daar oom Koot Visser, sentrale, wat gese het hy laat altyd vir Matie (Johan) Le Roux van Oom Gert en Tannie Baby Le Roux, Witdam, 12 minute lank vry oor die foon, want hy (Matie het soms erg gehakkel) sê net soveel in 12 minute as die ander mannetjies in 3.
     Dankie aan diegene wat die reunie organiseer- dit vat altyd baie en ons hoop om ook daar te wees.
     Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Die herinneringe is ‘n vloedgolf... soos in ’61. Dis Vyetyd. Christiana is nie ‘n vyeplek nie, maar in ons erf is daar 3 groot bome, hierdie jaar met heerlike, soet vye. Ander jare reen dit te veel, bars hulle oop, raak suur. Vanjaar is daar genoeg. Vir ons, vir die voels en die ape.
     Ek was in Spanje, net noord van Barcelona- een oggend vroeg op ‘n melkplaas. Terwyl ek vir my gids wag om te hoor of ons mag inkom, kom ‘n tannie (wat is ‘n antie in Spaans?) by die sifdeur uit, ja.. sif, met ‘n mandjie en begin vye pluk vanuit ‘n klompie pragtige, groot bome. My mond begin te water en my kop sit op loop. 
    In Oupa Jan se erf was daar 3 sulke groot vyebome (of dalk was ek maar net klein) met vye wat oral weggekruip het. Heerlik. Soet. Vye. Turksvye (die is ook in my tuin). Kwepers- langsaan in die Louws se erf (die het ek ook hier geplant)en natuurlik granate.  
    Hier is dit ‘n mislukking danksy die vrugtevliee. Dis onse wereld daai, Van Wyksvlei. Die lekkerste druiwe in die Brinks se tuin.
Toe was daar water. Windpompe. Leivoor. Moerbeie agter die Burgers se huis. Verder af die Bloekombos met die foefieslaaid.
    Skryf, “Cut en Paste” Van Der Spuy en help ons onthou.

Friday, November 25, 2011

Izak Smit


Ek het geloseer eers ant Mieta, wat 'n halfsuster van Ma was. Daarna by die Jovners.Ek en Bennie was in dieselfde klas. Toe was daar 'n tyd wat ek die Joostes ( net agter die Alstons se winkel) saam met Kobus Smit, Frans en Jakop Jooste en natuurlik die Jooste kinders gebly het.

Toe het die noodlot ingegryp en ouma Visser het beroerte gekry en Ma het haar toe op die dorp kom oppas. Dis hier waar ant Ellie by ons kom bly het as Ouma se verpleegster. Na Ouma se dood is sy uit ons huis met oom Gielie Visser getroud. Neef Gerhard Visser en sy suster Annette het by ons geloseer.

Genoeg van die verlede. Ek en Marlene, my anderhelfte, van amper 44 jaar, bly op Rocky Glen, 'n plaas in die Dordrecht-distrik. Ek was 18 jaar lank die skoolhoof hier.Ons het twee kinders, Sisteen en Francois. Sy is 'n boedelkosultant in Stellenbosch by PWC en is getroud met Freek Geyser. Hulle het een seun Martiens.Francois is 'n bourekenaar en hulle woon in Oos Londen.Hulle het twee seuns Schalk en Bruwer.

Broer Johannes is al oorlede en dit is nog net ek en broer Francois. Hy woon in Faerieglen, Pretoria. Hy kan self sy storie skrywe.

Dit lyk my dat na ons tyd of daar meer vir die kinders gedoen is om hulle aan die groter wêreld bekend te stel.

Die Burgerstrandhuis besoeke was ons nie beskore nie. Dit glo ek, was miskien te danke aan jonger personeel met vernuwende denke.

Ek sal graag met al die ou vriende E-posadresse wil uitruil en gesels. Dis nou diegene wat wil.

Monday, November 21, 2011

Gideon Louw

Francois Augustyn het my vanmiddag geskakel om my te vertel van die be-oogde 100-jarige Kerkreunie volgende jaar. Wat 'n verrassing was dit nie om op 'n Maandag so uit die bloute 'n oproep van Vanwyksvlei te kry.

Ek is ook beïndruk met die webblad. Die wêreld het klein geword met al die tegnologie en kommunikasie is vinnig.

Ek was predikant op Vanwyksvlei van 1981 tot 1984. Vandaar is ek uit die bediening en het by Sanlam Eiendomme gaan werk. Ek het later weer my predikantstatus teruggekry maar het nog nooit weer as predikant gepraktiseer nie. Ek is al vir die afgelope 17 jaar 'n terapeut wat met dwelmverslaafdes werk. 


My eggenote, Annemarie, is ook al vir baie jare 'n terapeut. Sy spesialiseer in eetversteurings. Ons het 5 kinders grootgemaak waarvan 2 al getroud is. Ons het ook 2 kleinkinders.

Wat ek van Vanwyksvlei en sy mense sal onthou, is die baie opregte liefde en geduld. Die droogtes, siektes en ontydige dood van baie het my altyd laat dink...."waarom bly die mense nog hier?" 


Vandag weet ek...dit was die gevoel van om te behoort aan 'n gemeenskap waarin elkeen sy plek gehad het. Ek dink dit het baie bygedra tot ons benadering tot siek mense naamlik dat jy nooit opgee nie. Selfs die siekste en slegste mens het 'n kans om reg te kom.

Groete uit Stellenbosch

Gideon Louw