Total Pageviews

Wednesday, January 25, 2012

Johnny Visser


Wat ‘n voorreg om herinner te word aan jou kleintyd en dit nogal deur mense wat dit saam met jou deurgemaak het. Baie dankie Van der Spuy en Annien vir julle inisiatief en ook aan elkeen wat sy/haar storie vertel het.
      Ek is bevoorreg om steeds my wortels in die omgewing te hê, aangesien ek deeltyds boer op ons familieplaas, Loskop.
     Gepraat van groot klasse: in St 7, as ek reg onthou was ons net 3, ek Erna van Wyk en Anita Bruwer.
     Na St 8 is ek Carnarvon toe vir St 9 en Matriek, daarna my deel gaan doen vir volk en vaderland. In 1975 klaar studeer op Stellenbosch (Landbou) en my lewensreis begin. My loopbaan is in die veevoerbedryf, nog steeds.
     Ons Loskop-Vissertjies was vyf- ek, Trudie, Diana  (oorlede), Annalize en Louise. Trudie bly in Springbok en Annalize en Louise in Prieska. Pa Boet en Ma Anna is ook reeds oorlede.
     In 1978 is ek met Lizelle getroud en ons het 3 kinders, ‘n dogter en twee seuns, asook 2 kleinkinders. Ons het in Malmesbury begin en is daar weg in 1982- Klerksdorp toe. Daarvandaan in Vryburg gaan draai en toe Christiana toe, waar ons steeds ‘n nessie het.
     Tot en met St.4 het ek by Oupa Jan en Ouma Daisy loseer en daarna is ek koshuis toe. Ander loseerders saam met my by Oupa en Ouma was Gert White en vir ‘n rukkie Gert Visser. Ons teen-aan bure was die Louws. Tannie Martha was ‘n tweede Ma vir my en ek en Jan het saam geboer. Cowbows en Kroeks gespeel en damme in die straat gebou (sommer as dit droog is ook- die hoop beskaam immers tog niet)-  tot die ergenis van die grootmense wat dit gereeld stukkend gery het. Dit was die dae van 5c sakgeld per week waarmee jy ‘n groot, vol blik kondensmelk kon koop, of ‘n “trompet” vol lekkers by Oom Ras.
     Oorkant ons was een van die eerste huisies in Van Wyksvlei. Een van modder en strooi. Anna (ek kan nie hulle van onthou nie) en haar Ma het toe nog daar gebly.
     Wonderlik was die manier waarop ons ouers en hulle werkers interaksie gehad het. Met groot respek vir mekaar. Ons kinders was gou getugtig wanneer ons nie respek aan die werkers getoon het nie. Ek wil vir julle ‘n staaltjie vertel rondom Karools Tieties, ‘n man waarvoor ek baie lief was en by wie ek oneindig baie geleer het en wat baie jare vir ons gewerk het.
      ‘n Man, soos sy voorsate, met ‘n ongelooflike waarnemings vermoe. Ek en Karools het een aand op die plaas in die asbosskerm rondom ‘n vuurtjie waarop ‘n skaaptjoppie begin verbruin het, sit en gesels toe daar ‘n spoetniek oorkom. Toe ek opmerk dat ek darem baie lanklaas ‘n sattelliet gesien het, wou Karools weet of ek “daai ding” al goed bekyk het.
      “Wag,” was sy opmerking, “as daar nou weer een oorkom, sal ek jou wys”. (deesdae is daar mos feitlik nie meer sulke goed te siene nie, of kyk ek maar net te min in die lug op?) Kort voor lank kom daar een oor. “Sien jy hom?,” vra Karools. “Daar gaan hy nou net by die 3 konings verby”. 
    “Ek sien hom!”  
     Karools,  “ Daar gaan hy nou oor die bult by die sewe susters verby- weg is hy.” Ek het gesien, Karools. Ja, Jontels, maar jy het nie mooi gekyk nie.
     “Nou wat het ek dan gemis, ek dog ek het hom mooi gesien”. Nou het jy dan nie gesien dat “daai ding” nie briekligte het nie? Kostelik- en waar en ek mis hom verskriklik.
     Dan was daar oom Koot Visser, sentrale, wat gese het hy laat altyd vir Matie (Johan) Le Roux van Oom Gert en Tannie Baby Le Roux, Witdam, 12 minute lank vry oor die foon, want hy (Matie het soms erg gehakkel) sê net soveel in 12 minute as die ander mannetjies in 3.
     Dankie aan diegene wat die reunie organiseer- dit vat altyd baie en ons hoop om ook daar te wees.
     Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Die herinneringe is ‘n vloedgolf... soos in ’61. Dis Vyetyd. Christiana is nie ‘n vyeplek nie, maar in ons erf is daar 3 groot bome, hierdie jaar met heerlike, soet vye. Ander jare reen dit te veel, bars hulle oop, raak suur. Vanjaar is daar genoeg. Vir ons, vir die voels en die ape.
     Ek was in Spanje, net noord van Barcelona- een oggend vroeg op ‘n melkplaas. Terwyl ek vir my gids wag om te hoor of ons mag inkom, kom ‘n tannie (wat is ‘n antie in Spaans?) by die sifdeur uit, ja.. sif, met ‘n mandjie en begin vye pluk vanuit ‘n klompie pragtige, groot bome. My mond begin te water en my kop sit op loop. 
    In Oupa Jan se erf was daar 3 sulke groot vyebome (of dalk was ek maar net klein) met vye wat oral weggekruip het. Heerlik. Soet. Vye. Turksvye (die is ook in my tuin). Kwepers- langsaan in die Louws se erf (die het ek ook hier geplant)en natuurlik granate.  
    Hier is dit ‘n mislukking danksy die vrugtevliee. Dis onse wereld daai, Van Wyksvlei. Die lekkerste druiwe in die Brinks se tuin.
Toe was daar water. Windpompe. Leivoor. Moerbeie agter die Burgers se huis. Verder af die Bloekombos met die foefieslaaid.
    Skryf, “Cut en Paste” Van Der Spuy en help ons onthou.

Friday, November 25, 2011

Izak Smit


Ek het geloseer eers ant Mieta, wat 'n halfsuster van Ma was. Daarna by die Jovners.Ek en Bennie was in dieselfde klas. Toe was daar 'n tyd wat ek die Joostes ( net agter die Alstons se winkel) saam met Kobus Smit, Frans en Jakop Jooste en natuurlik die Jooste kinders gebly het.

Toe het die noodlot ingegryp en ouma Visser het beroerte gekry en Ma het haar toe op die dorp kom oppas. Dis hier waar ant Ellie by ons kom bly het as Ouma se verpleegster. Na Ouma se dood is sy uit ons huis met oom Gielie Visser getroud. Neef Gerhard Visser en sy suster Annette het by ons geloseer.

Genoeg van die verlede. Ek en Marlene, my anderhelfte, van amper 44 jaar, bly op Rocky Glen, 'n plaas in die Dordrecht-distrik. Ek was 18 jaar lank die skoolhoof hier.Ons het twee kinders, Sisteen en Francois. Sy is 'n boedelkosultant in Stellenbosch by PWC en is getroud met Freek Geyser. Hulle het een seun Martiens.Francois is 'n bourekenaar en hulle woon in Oos Londen.Hulle het twee seuns Schalk en Bruwer.

Broer Johannes is al oorlede en dit is nog net ek en broer Francois. Hy woon in Faerieglen, Pretoria. Hy kan self sy storie skrywe.

Dit lyk my dat na ons tyd of daar meer vir die kinders gedoen is om hulle aan die groter wêreld bekend te stel.

Die Burgerstrandhuis besoeke was ons nie beskore nie. Dit glo ek, was miskien te danke aan jonger personeel met vernuwende denke.

Ek sal graag met al die ou vriende E-posadresse wil uitruil en gesels. Dis nou diegene wat wil.

Monday, November 21, 2011

Gideon Louw

Francois Augustyn het my vanmiddag geskakel om my te vertel van die be-oogde 100-jarige Kerkreunie volgende jaar. Wat 'n verrassing was dit nie om op 'n Maandag so uit die bloute 'n oproep van Vanwyksvlei te kry.

Ek is ook beïndruk met die webblad. Die wêreld het klein geword met al die tegnologie en kommunikasie is vinnig.

Ek was predikant op Vanwyksvlei van 1981 tot 1984. Vandaar is ek uit die bediening en het by Sanlam Eiendomme gaan werk. Ek het later weer my predikantstatus teruggekry maar het nog nooit weer as predikant gepraktiseer nie. Ek is al vir die afgelope 17 jaar 'n terapeut wat met dwelmverslaafdes werk. 


My eggenote, Annemarie, is ook al vir baie jare 'n terapeut. Sy spesialiseer in eetversteurings. Ons het 5 kinders grootgemaak waarvan 2 al getroud is. Ons het ook 2 kleinkinders.

Wat ek van Vanwyksvlei en sy mense sal onthou, is die baie opregte liefde en geduld. Die droogtes, siektes en ontydige dood van baie het my altyd laat dink...."waarom bly die mense nog hier?" 


Vandag weet ek...dit was die gevoel van om te behoort aan 'n gemeenskap waarin elkeen sy plek gehad het. Ek dink dit het baie bygedra tot ons benadering tot siek mense naamlik dat jy nooit opgee nie. Selfs die siekste en slegste mens het 'n kans om reg te kom.

Groete uit Stellenbosch

Gideon Louw

Thursday, October 27, 2011

(Klein) Schalk Burger

Ek het van die webtuiste bewus geword toe ek ‘n brief van die N.G. Kerk op Vanwyksvlei ontvang het wat gerig was aan my skoonpa, Jack Visser.  Hy is omtrent 9 jaar gelede oorlede.  My skoonma leef nog en was pas 90 jaar oud.  Sy woon in Hartenbos.  Ek is getroud met Rina, die oudste kind van Jack en Pop Visser.  Rina se broers is Piet Tekkies, Jan en Tem.  My skoonpa se broers was Ds. Ben Visser wat vroeër predikant op Vanwyksvlei was, sowel as oom Gielie Visser wat later met tant Ellie getroud was.

Ek het in 1961 standerd 8 geslaag op Vanwyksvlei en is daarna na die Hoër Jongenskool in die Paarl waar ek in 1963 matriek geslaag het.  Daarna weermag toe vir 9 maande opleiding waarvan drie maande in die Diensvakskool in Pretoria en 6 maande op Upington.  Dit is op Upington wat ek weer vir Rina raakgeloop het en is 1966 met haar getroud.  Ons het 4 kinders, twee dogters en twee seuns.  Ons jonger dogter en die twee seuns is almal op die 10de Mei gebore in die jare 1970, 1972 en 1974.  Ons is ryklik geseën met 9 kleinkinders, 6 seuns en 3 dogters.

Ek het op Vanwyksvlei in die Standard Bank begin werk op 2 Januarie 1965 met die ongelooflike salaris van R79 per maand.  Daarna het ons die land deurkruis soos wat die bank ons verplaas het.  Ek het later oorgegaan na Nedbank toe. Ons moes altesaam 14 keer trek.  Die laaste 10 jaar van my loopbaan het ons op Bloemfontein deurgebring waarna ons in 2004 na my aftrede na Kleinbrak verhuis het en hopelik hier sal kan aanbly tot die einde toe.

Ek dink soms terug aan die mense van wie meeste al vergeet het, soos oom Jasper Cloete, die opsigter by die skool met sy allemintige snor.  My pa en oom Ben Jovner was so lief om dambord teen mekaar te speel.  Oom Willie Vos het ons skoene reggemaak en hy het baie kwaad geword as ons hom vertel het die wêreld draai in die rondte. Oom Ras het baie geld gemaak met al die Peps lekkers wat ons daar by sy kafee gekoop het.  Sal ek ooit vergeet van die twaksakkie met die tiekies en sikspense wat hy in sy onderbaadjie se sak gedra het om Sondae voor kerk vir ons te help met kleingeld vir die kollekte.  Oom George Nolte het een somer vertel dat daar so baie muskiete is dat wanneer hy met sy sweep klap daar so ‘n bloedstreep deur die lug sit.

My broers en susters is oor die land versprei in Pretoria, Nelspruit, Welkom, Merweville, Somerset Wes, Paarl en Kraaifontein.  My suster, Herma, is reeds oorlede, en Tollie se vrou is ook onlangs oorlede.  Ja, hulle kap nou hier in ons bos!

Opregte dank aan Annien en Van der Spuy vir hierdie web tuiste.  Ek sien uit na verdere bydraes van die ander Vanwyksvleiers.

Tuesday, October 18, 2011

Fransie Human

Hoop nie ek klink te sinergisties of selfs fundamentalisties nie, maar die bestaan van die webtuiste is die Wondelikste nuus wat ek in maande gekry het!

Sal verseker stories en foto's later stuur. Wou net eers BAIE DANKIE sê hiervoor. Vanwyksvlei sal altyd deel wees van my mens-wees.

Monday, October 3, 2011

Pieter Fourie

By Groot Schalk Burger gehoor van die webblad en kom inloer (wonder wat het van Klein Schalk geword) en skielik was ek vasgevang in  heimwee en 'n knop in my keel wat nie wou afsluk nie. Die dorp lyk nog net soos ek onthou, sal sekerlik nog 'n  grondplan kan  teken as ek konsentreer wat op my ouderdom moeiliker is as wat ek sou wou erken.

Ek het op Kleinvlei grootgeword, bure met Schalk en Ansie Burger op De Nauwte en Tiny en Klein Piet Fourie op Takdam. In 1950 skool toe saam met Schalk. Sy ma het hom bietjie tuis geleer en hy is sommer Sub B toe. Na 'n week het die juffrou besluit daar is niks wat hulle vir my en Ansie in Sub A kon leer nie en is ons ook opgeskuif. 

Daarna was ons drie saam tot Std 8 waar ons saam met Tiny, Salome de Bruyn, Wilma van Heerden en Dina Jacobs 'n reuse klas van sewe gevorm het. Die lewe soms moeilik gemaak vir Mnre Krynauw, Hanekom, Mostert en Snyman en ook Mev Brink. Schalk en ek is Paarl Boishaai toe, Ansie en Tiny na Larochelle en vir twee jaar het ons saam die skooltrein gery tot op Hutchinson.

Alles was toe so anders en so eenvoudig.  Ons kon kaalvoet loop en khaki dra en veld toe gaan en die koeelkop uitklim en niemand was bekommerd nie.Ons het dikwiel fietse gery, Raleighs en Humbers, dunwiele was hopeloos in sand en soms geval en vel verloor maar selde was dit nodig vir 'n besoek aan Dr Hattingh. Wie onthou nog Gouws en Hattingh Ingenieurs?

Soms het ons probeer rook en gehoes en naer geword maar niks geweet van dwelms. Ons was soms in die moeilikheid maar oor die algemeen meer dikwels in die kerk as Mnr Hauman se kantoor. Saans kon ons sterre sien en die eerste Sputnik volg.By die dam het ons blou bottels en patroondoppies en sigaretblikkies uit 'n ou ashoop gegrawe en by die enkele geleenthede wat daar water was en klei, het ons kleilat gegooi en probeer om klein kolganse te vang, gewoonlik onsuksesvol maar heerlik in die modder.

Wanneer daar water was, het die dorp se voor geloop en het dit nuwe geleenthede vir speel en kattekwaad geskep. Dan het oom Ras le Roux, die koster, se vrugtebome beter gedra en het ons in die aand soms 'n paar gaan gaps. Hy het altyd sy melkbokke in 'n opgeboude kraal aangehou. Later het hy net die krale opgebou en, siedaar, met dak, deure en vensters die dorp se eerste kafee waar ek elke week my sjieling sakgeld spandeer het, 6 pennies op lekkers en 6 pennies op suiker. 

Saam met my bende volgelinge, Klein Piet Fourie, sy neef Japie Bothma, Gawie Rossouw en die Jacobs tweeling, Josef en Benjamin, het ons asbosskerms in die veld gebou, suiker in 'n Cobra politoerblik se deksel gesmelt en baie meer suiglekkers gemaak as wat oom Ras kon bied.

In tant Maria Esterhuizen se huisie agter in oom Koos Smit se erf het ek loseer en het ek met 'n kers of lantern my huiswerk gedoen. Sy kon nie elektrisiteit van Avenants Lig en Krag bekostig nie maar ek het nooit die verskil agtergekom nie. My geheue het definitief al verswak, ek dog Gerber was oom Hannes Walters met die twee mooi en slim dogters en Max Kupfer die Avenants met die hotel langsaan. My pa was 'n Walters man, het een maal per jaar voor Kersfees by Avenants ingestap en vir Theo of 'n klerk gevra om vir hom 'n bottel soetwyn uit die drankwinkel te gaan haal. Nooit sy voete self daar gesit nie. Dalk sien ds Brink!!

Agter op oom Frans van der Westhuizen of Soon Oberholzer se lorrie met n kap het ons gaan rugby en netbal speel sommer so op grondvelde. Die skole met sagter velde se spanne het gewoonlik vroeg by ons opgedaag sodat hulle eers klippe van die veld kon afgooi. Ons veld was rof want elke pouse het die hele skool se seuns op hom sokker gespeel met 'n tennisbal.

Rugby was almal deurmekaar, te min vir ouderdoms groepe. Nerwe is afgeval en tone stukkend gestamp of getrap want tokse was nie 'n vereiste nie maar vanaand, op pad terug, was jy soms gelukikig om langs 'n meisie te kan sit en, terwyl die winterwind by baie gaatjies inkom, 'n kombers te deel en haar hand vas te hou. Party outjies het selfs gespog dat hulle 'n hand op 'n  knie gehad het maar ek het maar  altyd getwyfel oor die egtheid van sulke spoggery.

Na skool is Schalk en ek Pretoria Universiteit toe, hy ingenieurswese en ek veeartseny. As beurshouer moes ek vir die staat werk en begin in Upington waar ek bly tot 1969. Hier ontmoet ek ook my vrou Patricia (nee Holmes) en trou ons in 1968.

Ek verlaat die staatsdiens en die Kalahari, die eerste met vreugde, die tweede met hartseer en begin my eerste eie praktyk in Vredendal maar verskuif  in 1970 na Sasolburg in die Vrystaat waar ek my praktyk oor die volgende 32 jaar opbou.
Ons is geseen met 2 dogters en 2 seuns en 'n rype oes van 8 kleinkinders, 5 seuns en 3 dogters.

Ek verkoop my praktyk in 2002 en skuif in 2003 na Pretoria waar ek vinnig ontdek dat aftree nie vir my is nie. Om te kompenseer doen ek nou lokumwerk vir my vriende en spandeer 4 tot 6 mde per jaar in Engeland waar ek inverskeie praktyke aflos. Verder spandeer ek tyd met my familie en werk in my posseel tuintjie of besoek die wildtuine wanneer ek kan.

My suster Retha leef nog en woon in Goodwood in die Kaap maar Klein Piet Fourie, Takdam is reeds oorlede.

Monday, September 26, 2011

Ansie Burger-Maritz

Ek was Ansie Burger, het saam met broer Schalk in '58 standerd 8 geskryf en is toe La Rochelle toe.  In Grahamstad verder studeer en toe op verskillende plekke skoolgehou, 'n besigheid saam met 'n vennoot besit en tot aftrede 3 jaar gelede by Sanlam se hoofkantoor in Bellville gewerk.

Hierdie is 'n skitterende idee.  En ek stem saam oor Facebook - het my deelname daar lankal gekanselleer.  Dankie aan Van der Spuy en Annien.

Ek is op die geseënde ouderdom dat flitse van die voorjare gereeld by my opkom!  Nie dat alles van daardie jare rooskleurig was nie, maar dit geld doodseker vir almal van ons, né?

Dink nou die dag aan ons 'uitspeel'-dae na onder andere Vosburg.  Ook met uitskoponderrokke, selfs 'n hoepel of twee, agter op 'n lorrie! Nou voel dit vir my ek het full circle bereik, want Vosburg hou al vir die afgelope paar jaar hier in Stellenberg by ons kerkbazaar.  Kom met 'n groot koel-lorrie en vleis, vleis, vleis!  Hier in ons maksi-gemeente is die koopkrag en mense staan van vroeg af tou.  So neem ek binnekort van Vosburg se sosaties na Oranjemund wanneer ek na my kinders gaan vir 'n week of twee.

Ek is al meer as 20 jaar op 'n solovlug en het twee pragtige getroude dogters met 4 kleinkinders tussen hulle. Toe albei dogters getroud is, het ek my nooiensvan teruggeneem.  Daardie jare was dit baie maklik en het tien rand gekos!

Ek het so heimwee na die Zinnias in ons voortuin gehad dat ek 'n ruk gelede saad in die Williston Mall gekoop het en toe verlede somer in my klein meenthuistuintjie 'n pragtige drag gehad het.  (Verlang niks na selonsrose nie!)

Ek lees getrou alles wat almal bydra.