By Groot Schalk Burger gehoor van die webblad en kom inloer (wonder wat het van Klein Schalk geword) en skielik was ek vasgevang in heimwee en 'n knop in my keel wat nie wou afsluk nie. Die dorp lyk nog net soos ek onthou, sal sekerlik nog 'n grondplan kan teken as ek konsentreer wat op my ouderdom moeiliker is as wat ek sou wou erken.
Ek het op Kleinvlei grootgeword, bure met Schalk en Ansie Burger op De Nauwte en Tiny en Klein Piet Fourie op Takdam. In 1950 skool toe saam met Schalk. Sy ma het hom bietjie tuis geleer en hy is sommer Sub B toe. Na 'n week het die juffrou besluit daar is niks wat hulle vir my en Ansie in Sub A kon leer nie en is ons ook opgeskuif.
Daarna was ons drie saam tot Std 8 waar ons saam met Tiny, Salome de Bruyn, Wilma van Heerden en Dina Jacobs 'n reuse klas van sewe gevorm het. Die lewe soms moeilik gemaak vir Mnre Krynauw, Hanekom, Mostert en Snyman en ook Mev Brink. Schalk en ek is Paarl Boishaai toe, Ansie en Tiny na Larochelle en vir twee jaar het ons saam die skooltrein gery tot op Hutchinson.
Alles was toe so anders en so eenvoudig. Ons kon kaalvoet loop en khaki dra en veld toe gaan en die koeelkop uitklim en niemand was bekommerd nie.Ons het dikwiel fietse gery, Raleighs en Humbers, dunwiele was hopeloos in sand en soms geval en vel verloor maar selde was dit nodig vir 'n besoek aan Dr Hattingh. Wie onthou nog Gouws en Hattingh Ingenieurs?
Soms het ons probeer rook en gehoes en naer geword maar niks geweet van dwelms. Ons was soms in die moeilikheid maar oor die algemeen meer dikwels in die kerk as Mnr Hauman se kantoor. Saans kon ons sterre sien en die eerste Sputnik volg.By die dam het ons blou bottels en patroondoppies en sigaretblikkies uit 'n ou ashoop gegrawe en by die enkele geleenthede wat daar water was en klei, het ons kleilat gegooi en probeer om klein kolganse te vang, gewoonlik onsuksesvol maar heerlik in die modder.
Wanneer daar water was, het die dorp se voor geloop en het dit nuwe geleenthede vir speel en kattekwaad geskep. Dan het oom Ras le Roux, die koster, se vrugtebome beter gedra en het ons in die aand soms 'n paar gaan gaps. Hy het altyd sy melkbokke in 'n opgeboude kraal aangehou. Later het hy net die krale opgebou en, siedaar, met dak, deure en vensters die dorp se eerste kafee waar ek elke week my sjieling sakgeld spandeer het, 6 pennies op lekkers en 6 pennies op suiker.
Saam met my bende volgelinge, Klein Piet Fourie, sy neef Japie Bothma, Gawie Rossouw en die Jacobs tweeling, Josef en Benjamin, het ons asbosskerms in die veld gebou, suiker in 'n Cobra politoerblik se deksel gesmelt en baie meer suiglekkers gemaak as wat oom Ras kon bied.
In tant Maria Esterhuizen se huisie agter in oom Koos Smit se erf het ek loseer en het ek met 'n kers of lantern my huiswerk gedoen. Sy kon nie elektrisiteit van Avenants Lig en Krag bekostig nie maar ek het nooit die verskil agtergekom nie. My geheue het definitief al verswak, ek dog Gerber was oom Hannes Walters met die twee mooi en slim dogters en Max Kupfer die Avenants met die hotel langsaan. My pa was 'n Walters man, het een maal per jaar voor Kersfees by Avenants ingestap en vir Theo of 'n klerk gevra om vir hom 'n bottel soetwyn uit die drankwinkel te gaan haal. Nooit sy voete self daar gesit nie. Dalk sien ds Brink!!
Agter op oom Frans van der Westhuizen of Soon Oberholzer se lorrie met n kap het ons gaan rugby en netbal speel sommer so op grondvelde. Die skole met sagter velde se spanne het gewoonlik vroeg by ons opgedaag sodat hulle eers klippe van die veld kon afgooi. Ons veld was rof want elke pouse het die hele skool se seuns op hom sokker gespeel met 'n tennisbal.
Rugby was almal deurmekaar, te min vir ouderdoms groepe. Nerwe is afgeval en tone stukkend gestamp of getrap want tokse was nie 'n vereiste nie maar vanaand, op pad terug, was jy soms gelukikig om langs 'n meisie te kan sit en, terwyl die winterwind by baie gaatjies inkom, 'n kombers te deel en haar hand vas te hou. Party outjies het selfs gespog dat hulle 'n hand op 'n knie gehad het maar ek het maar altyd getwyfel oor die egtheid van sulke spoggery.
Na skool is Schalk en ek Pretoria Universiteit toe, hy ingenieurswese en ek veeartseny. As beurshouer moes ek vir die staat werk en begin in Upington waar ek bly tot 1969. Hier ontmoet ek ook my vrou Patricia (nee Holmes) en trou ons in 1968.
Ek verlaat die staatsdiens en die Kalahari, die eerste met vreugde, die tweede met hartseer en begin my eerste eie praktyk in Vredendal maar verskuif in 1970 na Sasolburg in die Vrystaat waar ek my praktyk oor die volgende 32 jaar opbou.
Ons is geseen met 2 dogters en 2 seuns en 'n rype oes van 8 kleinkinders, 5 seuns en 3 dogters.
Ek verkoop my praktyk in 2002 en skuif in 2003 na Pretoria waar ek vinnig ontdek dat aftree nie vir my is nie. Om te kompenseer doen ek nou lokumwerk vir my vriende en spandeer 4 tot 6 mde per jaar in Engeland waar ek inverskeie praktyke aflos. Verder spandeer ek tyd met my familie en werk in my posseel tuintjie of besoek die wildtuine wanneer ek kan.
My suster Retha leef nog en woon in Goodwood in die Kaap maar Klein Piet Fourie, Takdam is reeds oorlede.