Total Pageviews

Thursday, November 8, 2012

Anneke Krynauw

Ek het vanoggend die allerwonderlikste 'ding' ontdek: die webblad oor Vanwyksvlei! Sal vanaand as ek by die huis is hopelik rustig kan lees aan almal se stories.

Ja, ek was die skoolhoof se dogter ... Ons het in Oktober 1957 in Vanwyksvlei aangekom (ek was toe in Sub A) en daar gewoon tot April 1962. My broer, Kosie is daar gebore in 1958.

Die 'vloek' van die familie rus op my want ek is ook 'n onderwyser - Wiskunde. Woon tans in Houtbaai waar ek skoolhou by die International School of Hout Bay - 'n wêreld verwyderd van Vanwyksvlei met die bloekombome op die skoolgrond (seker nie meer daar nie?)

Dis so lekker om name te sien van mense wat ek goed kan onthou: Stompie Burger, Johan Joubert, Philip Burger, Miemie van Wyk, Van der Spuy Brink, Annien Pieters, ens. 


Dit voel vir my asof ek 'n geskenksak gekry het vol van lekker dinge, en dis nog nie eens Kersfees nie! Ek het nogal so in my agterkop begin beplan aan 'n moontlike kuier op Vanwyksvlei gedurende die Desember-vakansie, want ek smag na die wye oop vlaktes van die Karoo met sonbesies in die dag en baie sterre in die aand. Ek het glad nie geweet van die kerk se eeufees nie...

Ek dink nie ek het veel foto's van die tyd wat ons daar gewoon het nie, behalwe die ene wat reeds êrens op die webblad verskyn van die Krynauw-gesin; geneem in die pastorie se tuin, net voordat ons weg is.

Maar die herinneringe... genoeg om 'n boek te skryf!

Sal later weer klets en wil graag kontak maak met enigeen wat my nog kan onthou.

Mooi loop!

Friday, October 26, 2012

Willem Witbooi

Ek is bly vir die nuus wat ek kan lees wat Vanwyksvlei betref.

Ek het opgegroei in die plek.
Soutbosse, driedoring, gannabos, ysterdoring. 

Dankie aan Andre Oberholzer vir so 'n goeie projek.Jy sal my seker nie meer onthou nie.My noemnaam is Stokes.Ons twee het altyd baie saam gespeel.

Vanwyksvlei bly maar mooi.

Thursday, July 12, 2012

Philip De Bruyn (Flippie)

Ek het my laerskool dae by tannie" Breggie" loseer, ons was n hele paar my suster Rulene, Pienkies Blaauw , Matie le Roux kan nie almal onthou maar dit was lekker!

Johan Mans het langs ons gebly, ons het altyd klei-lat gegooi teen die koshuis kinders en geswem in die voor.

Ek kan eendag onthou hoe ons n muishond by tant Breggie se hoenders moes jaag en dit vir Matie natgemaak het en het hy gestink, dankie vir Dettol in die bad het dit beter gegaan.

Ai hy het ook nog die kerkklok gelui en toe haak die hakie onder by die ketting sy broek en skeur dit net voor die kerk begin en moes eers 'n ander broek gaan aantrek.

Ons het ook lekker kwepers gaan steel, kan nie meer onthou by wie.

Ek het nog baie stories maar los vir later.

My Pa is verlede jaar 22Mei 2011 oorlede, en ons gaan nog gereeld plaas toe (Nieuwedam).

Ma Liena bly op Upington maar ai sy is n traveller nou!

Ek woon ook op Upington ('n Elektrisiën)

En as ek in dorp kom gaan groet ek altyd vir Tant Breggie, wat 'n wonderlikke mens !

Nouja Groete,

Flippie De Bruyn

Thursday, April 26, 2012

Acy Kotze (de Kock)

Baie dankie aan almal wat al hulle stories met ons gedeel het dit bring soveel herinneringe terug. Ek is baie gelukkig om nog steeds gereeld op Vanwyksvlei te kuier by broer Vasie en al die onthous te herleef met soveel nuwe gesigte van kinders en kleinkinders wat nog daar is.


Is in 1950 skooltoe en loseer saam met Schalk en Ansie Buger en Gerhard Visser,Marien Pieters en Louis Gouws (laaankal nie meer met ons) by Mnr.en Mev. Koos Mostert en hul seun Pieter n hele huisvol.Die volgende jaar toe Vasie en Kolie moes skooltoe gaan word die huis gebou (nou gastehuis) en Marien gaan bly by Ouma En Oupa in Leeukolk Huis met Ansie en Schalk langsaan. 

Hoe lekker was dit om gou pouses uit te glip in die winter vir n warm plaatkoekie by Ouma Annie. Ja Annien met so 'n Ouma moet jy daarvan hou om in die tuin te krap want sy het die mooiste blomtuin gehad. Ek en Marien wat lag vir Mnr.Hanekom se kuif (altyd pynlik netjies ) as ons moet luister as hy Boekhou verduidelik. Marien het altyd gelag. Ansie die dag toe Tant Anna du Preez se mak kraanvoel jou gejaag het (het seker geweet jy gaan die hardste skree!)

Hannie Ber was 3 weke oud toe hy en sy Ma by my, Vasie en Kolie moes bly met Pieter se geboorte in Prieska
Piet Fourie my Pa was ook n Hannes Walters man maar ek en my Ma het gereeld oorgeglip na Gerber want daar het Amanda en Issie die mooiste materiaal verkoop en nou verkoop Tant Max daar heerlike biltong.

Johnny, ek was ook vir 10 jaar op Christana en het nog kontak met Rita Nieuwhoudt, Ben, Org en Lisbie het voor my groot geword.Ek stem saam dat jy nie nog vye,kwepers en granate kry soos op Vanwyksvlei nie al moet jy dit gesteel het want daar was oorvloed. Die lekkerste skaapboude kom nog steeds van VWV.

Ek sien nog Ds.Brink as hy saans kom melk haal met die jongste Brinkies, Kokkie die regop wittetjie en Vander Spuy die blas enetjie met die stout gesiggie.

Ek het 'n seun Louis in New Zeeland met 1 keinseun daar en 'n dogter Hanle in die Kaap wat dink dat Vanwyksvlei is die beste plek is na die hemel.Ek het 4 jaar gelede afgetree by Absa Bank Tygervallei en geniet dit om besig te wees met alles waarvoor daar toe nie tyd was nie

Wou so graag by die fees wees maar dalk sien ons mekaar weer op Vanwyksvlei

Gielie Steenkamp

Ek verlang na Vanwyksvlei, My vriende, Tyre Coetzee,,Willie Smit, Frikkie Luttig, Apie Augustyn en al die ou koshuis vriende, my klasmaats en so baie van die ouer mense wat waarskynlik nie meer leef nie. SIEN JULLE 6 - 9 APRIL 2012 SOOS DIE HERE WIL. Hoop om baie vriende weer te sien na ek 1961 daar weg is. Goeie wense, Gielie Steenkamp

Thursday, March 15, 2012

Tollie Burger


Ek is Tollie Burger en het regte name vir die wat nie weet nie. Carel Johannes.
VDS en Annien, hierdie webtuiste is die beste ding sedert KFC. Hou so aan. Die oud VWV'S, komaan manne en meisies. Help met bydraes.Die vloedgolf van herinneringe laat man skoon nostalgies voel as jy die bydraes lees. Soveel mooi stories ens.

Het op Vanwyksvlei skool gegaan tot std 5. 1964. Daarvandaan Pretoria toe na Prinshofskool vir swaksiendes. Matriek 1969. Begin in 1970 by Eskom te werk in die kommunukasie bedryf en het dit vir die grootste deel van my loopbaan gedoen. Tree einde Maart 2012 af weens mediese ongeskiktheid.  Was getroud met Joy Du Toit, geen kinders en sy is hemel toe op 15 Mei 2011.

Groetnis
Tollie Hans

Johan Joubert

Ou Tol bel my gister en vertel my van hierdie wonderlike ding. Van der Spuy dit is sommer lekker om te lees van almal. Ek, Johan Joubert (of “Hannie Ber” soos ou Tol altyd gesê het), woon nou reeds 16 jaar op Piketberg. Tree die einde van die maand uit diens na 35 jaar in die skoolhou-besigheid. Is nou ‘n Kringspanbestuurder, in die ou-dae ‘n “skool-inspekteur”.  

My vrou Suzette is in Augustus 2011 aan kanker oorlede. Ek het vier pragtige kinders waarvan die jongste twee ‘n tweeling is wat nog studeer op Stellenbosch. Die oudste seun is getroud maar die kleinkinders is nog nie op pad nie. Ek gaan my op Hartenbos vestig waar my huis is. Eintlik is jou huis mos waar jou kinders is, soos Coenie de Villiers sing in “Hart van Glas”. Ek sal weer in 2013 begin werk as dit so beskore is.

Ons was bevoorreg om die afgelope klompie jaar redelik gereeld op Vanwyksvlei te kom. Theo en Nana Avenant het daar gaan aftree en ons het ‘n kuierplek gehad. Wonderlik om daar so tussen die randjies en die swartklippe te kan rondloop. Ek was maar 13 jaar oud toe ons Kaap toe getrek het na standerd vyf. Al was ek nog jonk sal die Karoo nooit uit my bloed kom nie. As ons so Vanwyksvlei toe gery het, het ek altyd vir my vrou gesê hoe mooi dit is dan wou sy weet, “hoe kan die swart klippe dan mooi wees”.  Jul sal weet van dié mooi.

Waar is die dae toe ons ouma Kokkie (ant Hester de Kock) se voorgras stukkend gespeel het. Ek, Stompie, VDS, ou Tol, Piet de Kock, Johan Visser en nog meer. Dan ook nog kennikie in die agterstraat saam met die groot manne. Toe ons in standerd drie was, was die groot manne in standers ses en sewe. Middae het hul (Boetie, Donnie, Ruben en oom Ras se seuns) in ouma Kokkie se garage gaan rook voor hul die perde “bewerk” het.  Dan het ons klomp kleintjies hul darem bewonder.

En dan het ons ook vrugte gesteel by almal op die dorp. Granate by oom Ras, lemoene by oom Hansie. Tol was saam as ons by sy pa die steelwerk doen. By die pastorie kon ek en Stompie niks anders kon vaslê as blomkool nie. Ai en waar is die Tarzan-flieks in die kerksaal.

Sien jul Paasnaweek 2013 op Vanwyksvlei.