Ek het van die webtuiste
bewus geword toe ek ‘n brief van die N.G. Kerk op Vanwyksvlei ontvang
het wat gerig was aan my skoonpa, Jack Visser. Hy is omtrent 9 jaar
gelede oorlede. My skoonma leef nog en was pas 90 jaar oud. Sy woon in
Hartenbos. Ek is getroud met Rina, die oudste kind van Jack en Pop
Visser. Rina se broers is Piet Tekkies, Jan en Tem. My skoonpa se
broers was Ds. Ben Visser wat vroeër predikant op Vanwyksvlei was, sowel
as oom Gielie Visser wat later met tant Ellie getroud was.
Ek
het in 1961 standerd 8 geslaag op Vanwyksvlei en is daarna na die Hoër
Jongenskool in die Paarl waar ek in 1963 matriek geslaag het. Daarna
weermag toe vir 9 maande opleiding waarvan drie maande in die
Diensvakskool in Pretoria en 6 maande op Upington. Dit is op Upington
wat ek weer vir Rina raakgeloop het en is 1966 met haar getroud. Ons
het 4 kinders, twee dogters en twee seuns. Ons jonger dogter en die
twee seuns is almal op die 10de Mei gebore in die jare 1970, 1972 en
1974. Ons is ryklik geseën met 9 kleinkinders, 6 seuns en 3 dogters.
Ek
het op Vanwyksvlei in die Standard Bank begin werk op 2 Januarie 1965
met die ongelooflike salaris van R79 per maand. Daarna het ons die land
deurkruis soos wat die bank ons verplaas het. Ek het later oorgegaan
na Nedbank toe. Ons moes altesaam 14 keer trek. Die laaste 10 jaar van
my loopbaan het ons op Bloemfontein deurgebring waarna ons in 2004 na my
aftrede na Kleinbrak verhuis het en hopelik hier sal kan aanbly tot die
einde toe.
Ek
dink soms terug aan die mense van wie meeste al vergeet het, soos oom
Jasper Cloete, die opsigter by die skool met sy allemintige snor. My pa
en oom Ben Jovner was so lief om dambord teen mekaar te speel. Oom
Willie Vos het ons skoene reggemaak en hy het baie kwaad geword as ons
hom vertel het die wêreld draai in die rondte. Oom Ras het baie geld
gemaak met al die Peps lekkers wat ons daar by sy kafee gekoop het. Sal
ek ooit vergeet van die twaksakkie met die tiekies en sikspense wat hy
in sy onderbaadjie se sak gedra het om Sondae voor kerk vir ons te help
met kleingeld vir die kollekte. Oom George Nolte het een somer vertel
dat daar so baie muskiete is dat wanneer hy met sy sweep klap daar so ‘n
bloedstreep deur die lug sit.
My
broers en susters is oor die land versprei in Pretoria, Nelspruit,
Welkom, Merweville, Somerset Wes, Paarl en Kraaifontein. My suster,
Herma, is reeds oorlede, en Tollie se vrou is ook onlangs oorlede. Ja,
hulle kap nou hier in ons bos!
Opregte dank aan Annien en Van der Spuy vir hierdie web tuiste. Ek sien uit na verdere bydraes van die ander Vanwyksvleiers.
Total Pageviews
Thursday, October 27, 2011
Tuesday, October 18, 2011
Fransie Human
Hoop nie ek klink te sinergisties of selfs fundamentalisties nie, maar die bestaan van die webtuiste is die Wondelikste nuus wat ek in maande gekry het!
Sal verseker stories en foto's later stuur. Wou net eers BAIE DANKIE sê hiervoor. Vanwyksvlei sal altyd deel wees van my mens-wees.
Sal verseker stories en foto's later stuur. Wou net eers BAIE DANKIE sê hiervoor. Vanwyksvlei sal altyd deel wees van my mens-wees.
Monday, October 3, 2011
Pieter Fourie
By Groot Schalk Burger gehoor van die webblad en kom inloer (wonder wat het van Klein Schalk geword) en skielik was ek vasgevang in heimwee en 'n knop in my keel wat nie wou afsluk nie. Die dorp lyk nog net soos ek onthou, sal sekerlik nog 'n grondplan kan teken as ek konsentreer wat op my ouderdom moeiliker is as wat ek sou wou erken.
Ek het op Kleinvlei grootgeword, bure met Schalk en Ansie Burger op De Nauwte en Tiny en Klein Piet Fourie op Takdam. In 1950 skool toe saam met Schalk. Sy ma het hom bietjie tuis geleer en hy is sommer Sub B toe. Na 'n week het die juffrou besluit daar is niks wat hulle vir my en Ansie in Sub A kon leer nie en is ons ook opgeskuif.
Daarna was ons drie saam tot Std 8 waar ons saam met Tiny, Salome de Bruyn, Wilma van Heerden en Dina Jacobs 'n reuse klas van sewe gevorm het. Die lewe soms moeilik gemaak vir Mnre Krynauw, Hanekom, Mostert en Snyman en ook Mev Brink. Schalk en ek is Paarl Boishaai toe, Ansie en Tiny na Larochelle en vir twee jaar het ons saam die skooltrein gery tot op Hutchinson.
Daarna was ons drie saam tot Std 8 waar ons saam met Tiny, Salome de Bruyn, Wilma van Heerden en Dina Jacobs 'n reuse klas van sewe gevorm het. Die lewe soms moeilik gemaak vir Mnre Krynauw, Hanekom, Mostert en Snyman en ook Mev Brink. Schalk en ek is Paarl Boishaai toe, Ansie en Tiny na Larochelle en vir twee jaar het ons saam die skooltrein gery tot op Hutchinson.
Alles was toe so anders en so eenvoudig. Ons kon kaalvoet loop en khaki dra en veld toe gaan en die koeelkop uitklim en niemand was bekommerd nie.Ons het dikwiel fietse gery, Raleighs en Humbers, dunwiele was hopeloos in sand en soms geval en vel verloor maar selde was dit nodig vir 'n besoek aan Dr Hattingh. Wie onthou nog Gouws en Hattingh Ingenieurs?
Soms het ons probeer rook en gehoes en naer geword maar niks geweet van dwelms. Ons was soms in die moeilikheid maar oor die algemeen meer dikwels in die kerk as Mnr Hauman se kantoor. Saans kon ons sterre sien en die eerste Sputnik volg.By die dam het ons blou bottels en patroondoppies en sigaretblikkies uit 'n ou ashoop gegrawe en by die enkele geleenthede wat daar water was en klei, het ons kleilat gegooi en probeer om klein kolganse te vang, gewoonlik onsuksesvol maar heerlik in die modder.
Wanneer daar water was, het die dorp se voor geloop en het dit nuwe geleenthede vir speel en kattekwaad geskep. Dan het oom Ras le Roux, die koster, se vrugtebome beter gedra en het ons in die aand soms 'n paar gaan gaps. Hy het altyd sy melkbokke in 'n opgeboude kraal aangehou. Later het hy net die krale opgebou en, siedaar, met dak, deure en vensters die dorp se eerste kafee waar ek elke week my sjieling sakgeld spandeer het, 6 pennies op lekkers en 6 pennies op suiker.
Saam met my bende volgelinge, Klein Piet Fourie, sy neef Japie Bothma, Gawie Rossouw en die Jacobs tweeling, Josef en Benjamin, het ons asbosskerms in die veld gebou, suiker in 'n Cobra politoerblik se deksel gesmelt en baie meer suiglekkers gemaak as wat oom Ras kon bied.
In tant Maria Esterhuizen se huisie agter in oom Koos Smit se erf het ek loseer en het ek met 'n kers of lantern my huiswerk gedoen. Sy kon nie elektrisiteit van Avenants Lig en Krag bekostig nie maar ek het nooit die verskil agtergekom nie. My geheue het definitief al verswak, ek dog Gerber was oom Hannes Walters met die twee mooi en slim dogters en Max Kupfer die Avenants met die hotel langsaan. My pa was 'n Walters man, het een maal per jaar voor Kersfees by Avenants ingestap en vir Theo of 'n klerk gevra om vir hom 'n bottel soetwyn uit die drankwinkel te gaan haal. Nooit sy voete self daar gesit nie. Dalk sien ds Brink!!
Agter op oom Frans van der Westhuizen of Soon Oberholzer se lorrie met n kap het ons gaan rugby en netbal speel sommer so op grondvelde. Die skole met sagter velde se spanne het gewoonlik vroeg by ons opgedaag sodat hulle eers klippe van die veld kon afgooi. Ons veld was rof want elke pouse het die hele skool se seuns op hom sokker gespeel met 'n tennisbal.
Rugby was almal deurmekaar, te min vir ouderdoms groepe. Nerwe is afgeval en tone stukkend gestamp of getrap want tokse was nie 'n vereiste nie maar vanaand, op pad terug, was jy soms gelukikig om langs 'n meisie te kan sit en, terwyl die winterwind by baie gaatjies inkom, 'n kombers te deel en haar hand vas te hou. Party outjies het selfs gespog dat hulle 'n hand op 'n knie gehad het maar ek het maar altyd getwyfel oor die egtheid van sulke spoggery.
Na skool is Schalk en ek Pretoria Universiteit toe, hy ingenieurswese en ek veeartseny. As beurshouer moes ek vir die staat werk en begin in Upington waar ek bly tot 1969. Hier ontmoet ek ook my vrou Patricia (nee Holmes) en trou ons in 1968.
Ek verlaat die staatsdiens en die Kalahari, die eerste met vreugde, die tweede met hartseer en begin my eerste eie praktyk in Vredendal maar verskuif in 1970 na Sasolburg in die Vrystaat waar ek my praktyk oor die volgende 32 jaar opbou.
Ons is geseen met 2 dogters en 2 seuns en 'n rype oes van 8 kleinkinders, 5 seuns en 3 dogters.
Ek verkoop my praktyk in 2002 en skuif in 2003 na Pretoria waar ek vinnig ontdek dat aftree nie vir my is nie. Om te kompenseer doen ek nou lokumwerk vir my vriende en spandeer 4 tot 6 mde per jaar in Engeland waar ek inverskeie praktyke aflos. Verder spandeer ek tyd met my familie en werk in my posseel tuintjie of besoek die wildtuine wanneer ek kan.
My suster Retha leef nog en woon in Goodwood in die Kaap maar Klein Piet Fourie, Takdam is reeds oorlede.
Monday, September 26, 2011
Ansie Burger-Maritz
Ek was Ansie Burger, het saam met broer Schalk in '58 standerd 8 geskryf en is toe La Rochelle toe. In Grahamstad verder studeer en toe op verskillende plekke skoolgehou, 'n besigheid saam met 'n vennoot besit en tot aftrede 3 jaar gelede by Sanlam se hoofkantoor in Bellville gewerk.
Hierdie is 'n skitterende idee. En ek stem saam oor Facebook - het my deelname daar lankal gekanselleer. Dankie aan Van der Spuy en Annien.
Ek is op die geseënde ouderdom dat flitse van die voorjare gereeld by my opkom! Nie dat alles van daardie jare rooskleurig was nie, maar dit geld doodseker vir almal van ons, né?
Dink nou die dag aan ons 'uitspeel'-dae na onder andere Vosburg. Ook met uitskoponderrokke, selfs 'n hoepel of twee, agter op 'n lorrie! Nou voel dit vir my ek het full circle bereik, want Vosburg hou al vir die afgelope paar jaar hier in Stellenberg by ons kerkbazaar. Kom met 'n groot koel-lorrie en vleis, vleis, vleis! Hier in ons maksi-gemeente is die koopkrag en mense staan van vroeg af tou. So neem ek binnekort van Vosburg se sosaties na Oranjemund wanneer ek na my kinders gaan vir 'n week of twee.
Ek is al meer as 20 jaar op 'n solovlug en het twee pragtige getroude dogters met 4 kleinkinders tussen hulle. Toe albei dogters getroud is, het ek my nooiensvan teruggeneem. Daardie jare was dit baie maklik en het tien rand gekos!
Ek het so heimwee na die Zinnias in ons voortuin gehad dat ek 'n ruk gelede saad in die Williston Mall gekoop het en toe verlede somer in my klein meenthuistuintjie 'n pragtige drag gehad het. (Verlang niks na selonsrose nie!)
Ek lees getrou alles wat almal bydra.
Hierdie is 'n skitterende idee. En ek stem saam oor Facebook - het my deelname daar lankal gekanselleer. Dankie aan Van der Spuy en Annien.
Ek is op die geseënde ouderdom dat flitse van die voorjare gereeld by my opkom! Nie dat alles van daardie jare rooskleurig was nie, maar dit geld doodseker vir almal van ons, né?
Dink nou die dag aan ons 'uitspeel'-dae na onder andere Vosburg. Ook met uitskoponderrokke, selfs 'n hoepel of twee, agter op 'n lorrie! Nou voel dit vir my ek het full circle bereik, want Vosburg hou al vir die afgelope paar jaar hier in Stellenberg by ons kerkbazaar. Kom met 'n groot koel-lorrie en vleis, vleis, vleis! Hier in ons maksi-gemeente is die koopkrag en mense staan van vroeg af tou. So neem ek binnekort van Vosburg se sosaties na Oranjemund wanneer ek na my kinders gaan vir 'n week of twee.
Ek is al meer as 20 jaar op 'n solovlug en het twee pragtige getroude dogters met 4 kleinkinders tussen hulle. Toe albei dogters getroud is, het ek my nooiensvan teruggeneem. Daardie jare was dit baie maklik en het tien rand gekos!
Ek het so heimwee na die Zinnias in ons voortuin gehad dat ek 'n ruk gelede saad in die Williston Mall gekoop het en toe verlede somer in my klein meenthuistuintjie 'n pragtige drag gehad het. (Verlang niks na selonsrose nie!)
Ek lees getrou alles wat almal bydra.
Friday, September 23, 2011
Stompie Burger
Ek het in 1966 St 8 in Vanwyksvlei geskryf, toe na Carnarvon vir 9 en 10. Vloot toe vir 'n jaar, Stellenbosch toe vir 'n jaar of wat, toe die swerfjare ( soos Poppie Nongwne),later getroud met Ingrid Cooper van Caledon , het twee dogters en 'n seun. Het al 12 keer verhuis van dorp!!!- die hele land vol.
Was meeste van my jare by Santam. Afgetree daar, en is nou by 'n Ingilse versekeraar vir die laaste stuk. Beplan om te werk tot ek omval, want niksdoen sal my dood verhaas - wanneer dit ookal moet wees.
Het eendag aan die "voete van Gamaliel" ( Pa Hannes) gaan sit, en al die grappe aangeteken wat hy altyd vertel het. Sal dit een of ander tyd vir julle stuur. Ek weet net nie hoe werk al hierdie megefters nie. Woon nou op Malmesbury waar hulle so lekker brrry - rol die erre.
My Pa het die stuk vertel van die koningshuis se besoek in SA in die laat 40's.
Malmesbury nooi hulle toe vir 'n funksie/dans en al die res. Die een prins dans toe met 'n boervrou wie haar erre so lekker kan rol . Vra hy vir haar:"Do you always roll your r's like this" - haar antwoord : " only when I dance on high heels".
Julle moet baie lag, dit hou mens jonk en gesond.
Ns. Van der Spuy, onthou jy die keer toe ek en James Easton jou Pa se geel Kewer "geleen", en handbriekspinne gaan doen het tydens die aanddiens .
Thursday, September 22, 2011
Annien (Pieters) Kriel
Jare gelede het elke gesin 'n geskenk gekry..dit iets wees soos 6 glase of teepot en 6 koppies
Ons het gekoop by J Gerber & Kie. By dames afdeling gaan staan jy met jou lysie voor die bree toonbank. Amanda Avenant agter die toonbank. Jy vra dan vir 'n zip en hoop die kleur pas by jou materiaal. Die materiaal is dan in roklengtes (3meter) gesny.
Die afdeling waar die kruideniersware is: Jy staan met jou lysie voor die bree hout toonbank. Theo Avenant staan geduldig met die boek oop en skryf wat jy nodig het. Agterna word alles op die lysie met tabak en pruimtwak en vuuthoutjies in 'n kartonboks gepak en agter op die bakkie gepak.
Die mans afdeling bestaan uit mans skoene (Baker) wat nie uitgepak in bokse was. Klere was in plastiese sakkies ook in rakke gepak. Eenkant was die velskoene.
Daar by die kruideniersware afdeling was so eenkant sulke glas hokkies waar daar lekkers in was, dit was sulke los lekkers. Daar word dan van koerant of huisgenoot papier sulke "cone" kardoesies gedraai en by onderpunt met 'n vernuftige knypdraai toe gemaak. Lekkers word bo ingegooi en dan so omgevou en toe gedruk.
By Max Kupfer en Kie (oom Hannes se winkel)het ons dieselfde goed gekoop. Ek dink sommer aan die sykouse wat ons in die winter moes dra. Die "hot chocolate" was bv die kleur wat gewild was. Beenlengte was in 30 /32 /34 / 36 duim lengte. Jy het baie langbeen en vandag is daar net 'n 30 duim kous. Kous dan net bo die knie.
Philip Burger
Mooi so Moempie en Annien! Net vinnig dagse - sal later meer bydra. Ek is 1965 weg van Vanwyksvlei -- weermag toe en toe het die lewe sy draaie met my gestap. Woon nou reeds 23 jaar in Waterkloof Glen , Pretoria. Nog steeds getroud met Memory en ons het twee dogters.
Een getroud , ander een swot nog. My broers Johan ( Stompie), Jan en Nico woon almal in die Kaap en sal seker binnekort van hulle laat hoor. Ons dreig nou al lank om Vanwyksvlei te besoek en ek dink dit sal nou binnekort gebeur.
Groete eers . Dankie Schalk vir die web-adres!
Een getroud , ander een swot nog. My broers Johan ( Stompie), Jan en Nico woon almal in die Kaap en sal seker binnekort van hulle laat hoor. Ons dreig nou al lank om Vanwyksvlei te besoek en ek dink dit sal nou binnekort gebeur.
Groete eers . Dankie Schalk vir die web-adres!
Subscribe to:
Posts (Atom)